As julle reken ek was stil die afgelope klompie weke, dan is dit omdat dit die dolste skoonheidsmaand in ‘n lang tyd was!
Net in Junie alleen was daar nie minder nie as 15 formele nuwe produkbekendstellings (of launches, soos ons dit in die bedryf noem) met die een wonderlike funksie en asemrowende “venue” na die ander!
Dan tel ek nie eens die talle pakkies met nuwighede wat sonder feestelikheid en fanfare onaangekondig net op my tafel land nie…
Dit is natuurlik goeie nuus, want dit beteken daar is opwinding, lewe en mededinging in die mark, maar nou is my gô uit en die rakke vol. En dis tyd om te “show and tell”.
Ek begin met die opwindendste (weelderigste, duurste, begeerlikste) alles in oortreffende trap:
Estée Lauder Re-Nutriv Ultimate Diamond Sculpting/Refinishing Dual Infusion Serum (R4 000) En Re-Nutriv Ultimate Diamond Transformative Energy Crème (R3 900)
Diep, diep in die woud… So begin elke goeie sprokie. En diep in die woud, onder ‘n majestieuse eikeboom in die Suidweste van Frankryk, skuil een van die wêreld se raarste vondse – die Swart Diamant Truffel.
Re-Nutriv het die ekstrak van hierdie kosbare truffel (wat op die eeue-oue manier deur boere en hul honde uitgesnuffel en met die hand geoes word) danksy verbysterende tegnologie en navorsing in ‘n elikser omskep wat belowe om jou vel te transformeer sodat jou gesig meer stralend, ferm gevorm en gloeiend sal lyk.
Dit is verpak in twee silinders: in die goue silinder is die truffel-ekstrak vermeng met 24karaat fyngoud en SIRT-6*, ‘n bestanddeel wat selle aktiveer om die vel se digtheid, soepelheid en veerkrag te herstel. In die platinum silinder is bestanddele wat die vel se oppervlak herbou, hertekstureer en glad maak, en verpoeierde Suidsee pêrels om die vel stralend te laat vertoon. Die kombinasie van al hierdie hoogs nagevorste en gesofistikeerde bestanddele werk alles mee om die vel se natuurlike energie en hernuwingsvermoë te aktiveer.
As die prys jou asem wegslaan, hier is een van die redes waarom dit so duur is: Van die eerste truffelknol tot die voltooide elikser, neem elke druppel van die ekstrak 10 000 (ja, tienduisend) ure om te maak! Hierdie is inderdaad Luukse Velsorg met hoofletters.
Wanneer ‘n mens die pompie druk, word presies die regte hoeveelheid druppels uit elk van die silinders vrygestel en vermeng in jou hand. Druk jou hande teenmekaar, en druk dan saggies vir 3 sekondes teen jou gesig – eers die voorkop en ken en dan die wange en kante van die gesig. Een pomp van die serum is genoeg om die gesig en hals te bedek – jy wil wraggies nie oordadig met sulke duur produkte te werk gaan nie.
Uiteraard het so ‘n kosbare, kragtige elikser ‘n spanmaat nodig, en daarvoor tree die Re-Nutriv Ultimate Diamond Transformative Energy Crème ewe vernaam aan. Dit is ‘n ryk, fluweel-room wat letterlik energie in die vel se selle in “pomp” om dit stralend en egalig te laat vertoon en kontoere te lig en verferm.
Later vanjaar kom ‘n oogroom by om dié wenkombinasie te voltooi.
Ek toets tans die produkte en sal mettertyd my mening kan gee oor die resultate, maar vir eers is ek doodverlief op hoe wonderlik dit op my vel voel en ek kan nie genoeg inadem nie aan die lieflike aroma van sitrusnote (suurlemoen, pomelo) en blomgeure soos jasmyn en roosblare, wat alles bydra tot ‘n sensasie van absolute weelde en luuksheid.