PAS IN: MOOI vir Mei en Moedersdag

Moet ‘n mens altyd ‘n verskoning hê om jouself met mooimaakgoed te bederf? Dalk nie, maar baie van ons Afrikaanse vroue van die geslag wat  sober Calvinisties grootgemaak is, sukkel nog soms om toe te gee aan die begeerte en die plesier van iets nuuts, moois en lekker.

Nou ja, Moedersdag is voor die deur – as niemand anders jou tot in die afgrond gaan bederf nie, doen dit self met hierdie nuwe velsorgprodukte, grimering en parfuums. Toe, waarvoor wag jy? Hier is die herfs se beste en mooiste produkte.

PARFUUM OM VAN TE DROOM

JoMaloneherb

Jo Malone Herb Garden Cologne-reeks 30ml R780

Ek is heeltemal gek oor hierdie foto wat die Jo Malone Herb Garden-reeks van 5 verskillende geure verteenwoordig. Nie ‘n jong poppie met ferm, ronde kurwes en vals wimpers nie – ‘n “dinkum” mooi, waardige middeljarige vrou wat met genot in haar kruietuin werskaf – ‘n mens voel sommer asof jy haar ken. En die geure is ook bekend, met ‘n effense skalkse “twist”. Dink Engelse laventel, speseryagtige gekneusde kappertjieblomme, vinkel, tiemie, pietersielie, roosmaryn, suurlemoen en vars geelwortels waaraan die klam grond nog vaskleef. Hmmm. Lieflik. Daar is vyf geure om uit te kies: Sorrel & Lemon Thyme; Wild Strawberry & Parsley; Nasturtium & Clover; Carrot Blossom & Fennel; Lavender & Coriander.

Al hierdie kruieagtige geure word behendig gekombineer met ander tuingeure soos jasmyn, roos, lemoenbloeisel, viooltjies en roosmalva (geranium). Dit is ‘n lieflike ruiker van parfuums en perfek vir iemand wat hou van subtiele, interessante geure. My gunsteling op die oomblik is Sorrel & Lemon Thyme, maar ek kan voorspel dat ek in die wintermaande gaan lus wees vir Lavender & Coriander vir ‘n warmer geur-sensasie.

As ek nou net daardie stylvolle tuinier-tannie op die foto kan invoer om vir my so ‘n tuin te kom skep…

image001

Jo Malone Nashi Blossom Cologne (Limited Edition) 30ml R780

Limited Edition beteken jy moet spring as jy dit wil koop, want dit is ‘n beperkte, eenmalige vrystelling en wanneer dit op is, is dit op. Dit is ‘n lieflike vars geur met note van appel, peer en suurlemoen. Moenie bekommerd wees nie, jy sal nie na ‘n vrugteboord ruik nie – die oorheersende geur sensasie is nashi-bloeisels, roos en sagte wit muskus. Dit is ‘n ideale cologne in tipiese Jo Malone-tradisie vir bedags en laat ‘n mens sommer lig en vrolik voel.

VIR JOU VEL

SkinCeuticals Triple_Lipids_242_silo

SkinCeuticals Triple Lipid Restore 30ml R2 450

Leer die term “huid skermlaag”. Jy gaan dit nog dikwels hoor in die maande wat kom, want dit is die nuwe front teen velveroudering. In Engels “skin barrier function”. In eenvoudige taal – dit is die heel boonste, buitenste, laag (stratum corneum) van die vel (m.a.w. wat jy op die oppervlak sien) en die funksie daarvan is om die dieper dermale lae te beskerm. Kortom, jou vel se gesondheid hang af van hoe goed hierdie laag funksioneer. Wanneer alles pluis is, is jou vel glad, sag en plomp. Loop sake hier skeef, lyk jou vel droog, grof, dof, oud, afgeleef en gedehidreer. En dit is maar net wat sigbaar is – ‘n skermlaag wat beskadig is, kan ook ly tot erge probleme soos ekseem en rosacea, om nie te praat van vroegtydige veroudering nie.

Die belangrikste bestanddele om hierdie laag te beskerm of te genees as dit reeds beskadig is, is cholesterol en vetsure, asook gliserien, seramides en hialuroniese suur (HA). Hierdie nuutste produk van SkinCeuticals bevat cholesterol as hoofbestanddeel.  Cholesterol is essensiëel om die vel se selmembraan te vorm, en die cholesterol in die vel se selle neem af soos ons ouer word omdat ouer vel ‘n stadiger metaboliese pas het.

Die room beloof hierdie resultate ná agt weke se gebruik: Vel is 60% gladder; porieë vertoon 44% kleiner. Die vel se hidrasie is na net 24 uur reeds 39% hoër.

Nee, moenie vir my vra hoe al hierdie syfers gemeet word nie! SkinCeuticals is aan die voorpunt van wetenskap wat die vel betref, en dis goed genoeg vir my, veral noudat ek sien hoe my vel die produk saans opslurp. En ek gaan akkoord met Dr Sly Nedic, wat die wetenskap agter alles verduidelik het tydens die bekendstelling van Triple Lipid Restore:

“Ageing is an attitude till you turn 50. Then you need SCIENCE!”

La Mer SERUMS_LIFTING_EYE_22377_W_Applicator_LM_CMYK300La Mer The Lifting Eye Serum 15ml R2 700

As jy al ooit jou hare in ‘n stywe poniestert boontoe en agter jou kop opgetrek het, dan sal jy die effek van hierdie nuwe serum van La Mer snap. Dit werk op die hele “argitektuur” van die vel rondom die oë, en in die besonder op die boonste ooglid en die wenkbroue. Dit lig, vorm en definieer die oë sigbaar binne minute en dit klop beslis ‘n afspraak met die plastiese snydokter! Die verkooplyn van die Lifting Eye Serum is Repair, Reposition, Rejuvenate, en dit werk vir my. Skynbaar vir talle ander vroue ook – die serum was summier uitverkoop toe dit die rakke hier in Suid-Afrika getref het, maar is gelukkig nou weer beskikbaar.

Filorga SKIN ABS DAY-BLANC-OUVERT-BIG-RP0515 copyFilorga Skin Absolute Day R1 790

Wat kan wit saffiere vir jou vel doen? Suiwer lig, glans en gloed daaraan gee, dis wat. Wit saffier-ekstrak is een van die bestanddele in dié nuwe room van Filorga wat geïnspireer is deur lig-energie behandeling teen veroudering. Dit beloof om binne 30 dae ‘n sigbare impak te hê op plooie, fermheid, velkleur, velgloed en veltekstuur. Dit beskerm ook die vel teen UV en infrarooi bestraling asook besoedeling. Dis ideaal vir vroue 35 en ouer.

Luminesce Full Range copy

Jeunesse Luminesce Reeks (Van R699 vir die reiniger tot R1 914.52 vir die serum)

Ek is tans besig om ‘n “Seisoen Met ….” ‘n spesifieke produkreeks te voltooi (meer daaroor later) maar ek weet reeds wat volgende op my toetstafel is: Hierdie fassinerende reeks wat ontwikkel is deur ‘n plastiese chirurg in Amerika en stilweg reeds meer as ‘n R0.5m (dis ‘n halfmiljoen Rand) se verkope per maand in Suid-Afrika doen, net deur agente en aanlynbestellings. Ek is ‘n “sucker” vir wetenskap, dit weet julle nou al. Die stamsel-tegnologie en groeifaktore in hierdie produkte fassineer my omdat dit die vel sodanig stimuleer dat dit vanself doen wat dit van nature behoort te doen en al die spore van veroudering soos diep lyne, onegalige, dowwe velkleur, pigmentasie, letsels en verlies aan elastisiteit die stryd aansê. Dit gee natuurlike selregenerasie ‘n hupstoot deur dormante fibroblaste (wat kollageen en elastien produseer) wakker te maak en aan te spoor sodat die vel vanself kan hernu. Dit klink byna te goed om waar te wees, maar die resultate wat ek gesien het, lyk fantasties. Die pryse is ook nie buitensporig nie.

DERMALOGICA

Dermalogica Charcoal Rescue Masque R790 en Dermalogica Hydrablur Primer R850

Houtskool is ‘n nuwe-ou raat vir baie velprobleme en dit is skielik weer in al wat ‘n produk is, van maskers tot reinigers. Die krag van houtskool lê daarin dat dit letterlik trekkrag het: Dit trek toksienes uit die vel en suiwer dit van alles wat nie daar hoort nie. In die verlede is dit veral gebruik vir olierige en aknee-vel, maar in die nuwe formules, soos die Charcoal Rescue Mask word ‘n spesiale vulkaniese as saam met sulfur gebruik om onsuiwerhede uit te trek, porieë te verfyn, rooiheid te kalmeer en die vel se tekstuur en gladheid te verbeter.

As jy nog nie ‘n basislaag (primer) in jou velsorg-cum-grimeer arsenaal het nie, is dit hoog tyd om een af te skaf. Die Hydrablur Primer steek die grens oor tussen velsorg, omdat dit goed is vir jou vel, want dit bevogtig vel as ‘n eerste stap in grimering wat ‘n “blur” effek skep en die voorkoms van lyne versag en ‘n stralende voorkoms aan die vel gee. Dit bevat onder meer sampioen-ekstrak wat die voorkoms en grootte van porieë minder opsigtelik maak. Die beste manier om dit te beskryf, is dat dit werk soos ‘n filter vir Instagram “selfies”.

Chanel LA SOLUTION 10 DE CHANELCHANEL La Solution 10 De Chanel Sensitive Skin Cream R1 145

As jou vel nie besonder goed bestand is teen die aanslae van die elemente nie, en veral met die winter voor die deur, is hierdie nuwe room van Chanel nommerpas vir jou.

Dit  beskerm die vel teen aggressors soos besoedeling, ekstreme klimaatstoestande en kan ook ingespan word ná prosedures soos velskilfering en laserbehandeling om vinnige herstel aan te help. Dit is spesiaal geformuleer om sag te werk met sensitiewe of tydelik sensitiewe vel en bevat net tien bestanddele, vandaar die naam La Solution 10 – die goue reël is immers om jou produkte so eenvoudig moontlik te hou as jou vel geïrriteerd is.

 

VIR DIE MOOI: GRIMERING

Lineup with Applicator copyLancôme Juicy Shakers R270

Ek is heeltemal versot op hierdie prettige pigment-in-olie lipkleursel. Die kleure is intens en vrolik en die tekstuur van die olie-pigment-suspensie (jy skud dit deeglik om te meng) wat met die oulike sponspunt op jou lippe aangedruk word, is met een woord wonderlik. Ek soek een in elke kleur!

Urban Decay 91646_naked2 copyUrban Decay Naked Palette R850

Uiteindelik! As jy ‘n grimeer-junkie is, besit of begeer jy een van die Urban Decay Naked Palette. (Daar is drie palette in Naked en ‘n vierde een in Naked Smokey.) Dit het ‘n kultus-aanhang wêreldwyd. Die eerste Urban Decay winkel open in Junie in Stuttafords Sandton.

Smashbox SY_BLLipstick_CMYK copy

Smashbox  Be Legendary Lipstick Matte Collection R260 elk

Mat is die woord vir lipstif hierdie winter. Dié reeks van Smashbox sal vir elke gier, smaak, voorkoms en uitrusting werk.

Smashbox PS_Insta-Matte_Final copySmashbox Insta-Matte Lipstick Transformer R290

As jy sku is vir mat lipstif of nie nuwe lipstif wil koop nie (ongelooflik…), hoef jy dit nie te doen nie; smeer net ‘n lekseltjie van Smashbox se Insta-Matte oor jou gewone glans- of roomlipstif en jou mond het eensklaps ‘n modieuse, mat voorkoms. Dit is een van die slimste produkte wat ek in ‘n lang tyd teengekom het.

Smashbox SY_BrowTechShapingGroup_sRGB copy

Smashbox Brow-Tech Shaping Powder R290

Die wenkbrou-manie is nog met ons, en dit gaan vir ‘n lang tyd so bly. As jou wenkbroue iets meer nodig het as bloot ‘n paar potloodstrepe om hulle welig en sterk te laat vertoon en kleur te gee, probeer hierdie poeier/vloeistof mengsel van Smashbox. Ek het aanvanklik met die Dark Brown gespeel, maar dit was hopeloos te donker. Die Blonde en Taupe skakerings sal perfek vir meeste vroue werk, en probeer die donkerder skakerings as jy werklik baie donker hare of  ‘n donker gelaatskleur het.

Les Beiges Healthy Glow Foundation No30 copy

CHANEL Les Beiges  Healthy Glow Foundation SPF25 R785

Die jongste optiese tegnologie word vir hierdie fyn onderlaag gebruik wat met ‘n paar hale jou vel vlekkeloos afgewerk en met ‘n gesonde gloed laat soos dié van supermodel Giselle Bündchen.

Kyk hier by Chanel Beauty Talk na Giselle “The Glow” se grimeergeheime met Chanel Les Beiges:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *