Teen die einde van elke jaar, hier by November rond, is dit ‘n dolle gejaag en elke skoonheidsredakteur se dagboek lyk soos ‘n slordige treinongeluk – ons het soms tot drie bekendstellingsfunksies per dag.
Al wat ‘n kosmetiekhuis en handelsmerk is, is dan haastig om hul produkte vir die eerste drie maande van die nuwe jaar bekend te stel. Uiteraard is daar dus aan die begin van die jaar ‘n ryk verskeidenheid van opwindende en interessante nuwe velsorg- en grimeerprodukte sowel as nuwe parfuums om oor te skryf.
Ek kyk vir eers net na die velsorg-nuwelinge asook ‘n nuwe parfuum. Ek vertel volgende week meer van al die fantastiese nuwe toorgoed met grimering – Ali Baba se grot vol skatte lyk na ‘n spazawinkel in vergelyking met al die nuwe fondse op my tafel!
Placecol se Nuut Geformuleerde Dermaseutiese Velsorgreeks (R200 tot R575)
Placecol is nou 34 jaar jaar oud – presies die ouderdom wanneer ‘n vrou begin dink aan ietwat van ‘n “makeover” om haar voorkoms te verfris en tred te laat hou met die tyd.
Hierdie trots Suid-Afrikaanse velsorgreeks (wat landwyd in 60 velsorgklinieke gebruik word) het nie op hulle laat wag nie – hulle het ‘n nuwe, elegante voorkoms en ‘n vereenvoudigde reeks die lig laat sien. In kombinasie met die beste Switserse biotegnologie het hulle slim nuwe formulerings geskep vir produkte wat belowe om binne 7 dae jou vel stralend gesond, gloeiend en egalig te laat vertoon. (Hul Radiance Eventone Therapy (R230) bevat nie minder nie as 46 aktiewe bestanddele in totaal).
Die nuwe reeks lyk stylvol en skoon en bied myns insiens ‘n hoogs bekostigbare reeks met werklik topgehalte bestanddele en navorsing om dit te rugsteun.
Dermalogica PowerBright TRx Trio (R895 – R1 200)
Vroue se toenemende aandrang op produkte wat pigmentasie en donker vlekke op hul vel ligter maak en verhelder, maak dit deesdae die nommer een velsorgprioriteit. Volgens dermalogica is hiperpigmentasie veral ‘n probleem ná 40. Onreëlmatige velkleur word nou beskou as die grootste ouderdomsverklikker (age marker), selfs meer as plooie en lyne. Die drietal produkte in hierdie nuwe reeks behandel dié probleem met die jongste tegnologie in vel-verheldering en vervang hul voorganger, ChromaWhite TRx.
Pure Light SPF50 (R895) is ‘n chemiese sonskerm wat die vel beskerm teen pigmentasie weens UV-bestraling en dit bevat ook rooi alge en botaniese ekstrakte om onegalige velkleur te balanseer. Dit is ryk aan hialuroonsuur wat die vogbalans handhaaf en vorming van lyntjies weens droogheid voorkom.
C-12 Pure Brigth Serum (R1 200) is propvol kragtige aktiewe bestanddele soos peptiede, alge, sink en botaniese ekstrakte om op ‘n sellulêre vlak die snellers van hiperpigmentasie in toom te hou en melanienvorming te voorkom. Dit help ook om die vel helder te maak.
Pure Night (R1 080) help die vel om homself te help herstel terwyl jy slaap. Dit bevat Vitamine C, wat ‘n erkende vel-verhelderingseffek het, asook rooi bosbessie (cranberry) en framboos (raspberry) saad-olies wat optimale hidrasie verseker en help om die vel stralend helder te maak.
As jy dit eers op die proef wil stel om te sien hoe goed dit vir jou vel sal werk, is daar ‘n handige stelletjie met al drie produkte beskikbaar teen R555.
BABOR ReVersive Anti-Aging Cream Rich with Re-Youth Complex (R2 783)
Watter vrou wil nie graag die horlosie ‘n bietjie terugdraai nie? Die navorsers by Babor se navorsing- en ontwikkelingsentrum in Duitsland verstaan hierdie begeerte maar alte goed.
Met Duitse presisie het hulle dus ‘n reeks saamgestel met 4 kragtige aktiewe bestanddele wat hulle die Re-Youth Complex gedoop het. Die doel daarvan is om selle langer jonk te hou; die vel se eie verdediging teen veroudering te aktiveer; stralende en helder vel te bevorder en verkleuring en bruin vlekke op te helder; die vel sag en glad te laat vertoon en plooie en lyne te “vul”.
Daar is, benewens die room (wat soggens en saans gebruik kan word) ook ‘n stel ampules met serum (4x R3 650), ‘n oogroom (R1 319) en ‘n minder ryk room (R2 560).
Die BABOR-naam het ‘n groot en lojale aanhang in Suid-Afrika en dis met goeie rede – soos ‘n topklas Duitse motor, weet jy presies wat om te verwag van die navorsing en uitmuntende bestanddele wat hierdie salonreeks kenmerk.
Terloops, Delia, die nuwe “gesig” van BABOR (op die foto), is ‘n Suid-Afrikaans-gebore model!
Optiphi Post-Tox Infinity Serum (4x R650)
Lus vir Botox maar bang vir die spuitnaald? Die slim navorsers by Optiphi het met ‘n vernuftige klein “spuitnaald” vorendag gekom vir diegene wat gereeld Botox inspuitings kry en dit langer (as drie maande) wil laat hou, asook vir vroue wat die effek van Botox begeer maar nie kans sien vir inspuitings nie.
Post-Tox verleng die leeftyd van Botox inspuitings deurdat dit help om spierbewegings wat lyne vorm, te inhibeer. Dit help egter ook as jy ‘n Botox-“maagd” is om die vorming van lyne om die oë en om die mond te verminder en selfs in ‘n mate uit te stryk. Dit is veral geskik vir rokersplooitjies of “barcodes” op die bolip en vir die diep lyne wat vorm tussen die neusvleuels en die mondhoeke. Die kleinste krieseltjie (jy druk net ‘n klein bietjie by die punt van die “naald” uit op jou vinger) is nodig en moet op silwerskoon vel aangewend word om behoorlik te penetreer. Die produk beloof om diep lyne vlakker te maak en veldigtheid en volume te verhoog. Meer inligting: www.optiphi.com
Clinique Aromatics In White (50ml R800)
Nie net is die ondeursigtige suiwer wit glasbottel allerpragtig nie, die parfuum is ongewoon en beslis bedoel vir ‘n vrou wat ‘n individualis is en hou van ‘n geur wat haar laat uitstaan.
Die topnote is viooltjieblare en peper, terwyl die hart van die parfuum gevorm word deur rooswater, lemoenbloeisel en patchouli. Die ankernote is ambergrys en muskus. Dit is ‘n lieflike geur wat nie net in die somer sal werk nie, maar ook genoeg warmte en persoonlikheid het vir koeler dae.
As jy ‘n klassieke Aromatics-vrou is (soos ek) sal jy hierdie nuweling interessant, maar baie anders as jou ou gunsteling vind. Probeer dit gerus en laat weet wat dink julle!