Permanente Grimering – Vraag en Antwoord

Vraag: Marie Taylor vra op Facebook se Mooipraatjies met Elsa blad: Wat is jou siening van permanente grimering, soos byvoorbeeld oogomlyning?

Antwoord: Marie, my eerste reaksie op jou vraag was: Ek hou niks daarvan nie. Ek ken te veel vroue wat dit 10-15 jaar gelede gedoen het en nou glad nie meer mooi lyk nie.

Die probleem met permanente oogomlyner is dat jou vel elastisiteit verloor soos jy ouer word. Jou ooglede (bo en onder) sak af (droop) en dan begin jy soos Fred die Basset-hond lyk met slap, lang ooglede en permanente strepe wat nie meer sit waar dit hoort nie.

Ek gril ook vir permanente lipomlyner – daardie donker lyn om die mond lyk hard en begin later in die fyn plooitjies op die bo-lip in-bloei, en dis vir my bitter onaantreklik en verouderend.

MAAR, soos die geluk dit wil hê, het ek jou vraag gelees terwyl ek by die haarkapper was, en presies op daardie oomblik vra die vrou langs my of enigiemand weet waar sy haar permanente wenkbroue kan laat verfris, want die kleurpigment het verbleik. Ek bekyk – en bevoel! – haar gesig toe deeglik en haar wenkbroue se vorm lyk pragtig, maar sy het glad geen hare daar nie. Sy is ‘n gim-afrigter en kan nie grimering dra nie, want sy sweet dit af.

Dus – ek sien heeltemal die meriete in van permanente grimering vir vroue wat hul wimpers en wenkbroue verloor het weens iets soos chemoterapie. Ek het self ‘n handjievol vriendinne wat tans weens borskanker deur dieselfde proses gaan en dis vir hulle baie swaar om hierdie simbool van hul vroulike skoonheid te verloor.

Wat jy moet weet oor permanente grimering: Hou jou oë wawyd oop – letterlik!

 Wat dit is:

  • Permanente grimering is kosmetiese tatoëering en jy MOET seker maak jy is in die hande van ‘n ervare persoon as jy dit wil laat doen. Permanent beteken immers dis vir altyd.
  • Pigmentkorrels word met ‘n naald onder die boonste laag van die vel geplaas. Dit word mikro-pigmentasie genoem.

Wat jy moet doen:

  • Doen jou huiswerk. Maak seker die persoon wat dit doen, werk in ‘n kliniese, steriele omgewing. Maak seker ‘n vars, steriele naald word gebruik.
  • Vra foto’s van voorbeelde van sy of haar EIE werk. Vind uit hoe lank hulle al in die bedryf is – jy wil nie ‘n proefkonyn wees nie.
  • Kies ‘n klassieke styl – jy wil nie oor 20 jaar met ‘n wenkbrou of oogomlyner sit wat hopeloos uit die mode is nie.
  • Moet ook nie met onnatuurlike kleure soos blou en groen of pers vir oogomlyner of gitswart vir jou wenkbroue speel nie – onthou, dis vir altyd. Ditto vir jou lippe – die beste kleur is ‘n skakering net ‘n raps donkerder as die binnekant van jou onderlip. Hou verby donker lipomlyner – dis onnatuurlik en dit verouder nie mooi nie.
  • Bowenal – vertrou jou intuïsie. As jy ongemaklik voel met die kunstenaar, vat jou handsak en laat spat.

Die voordele:

  • Jy word soggens wakker met ‘n “gesig”.
  • Dis wonderlik vir vroue met min of baie ligte wenkbroue en wimpers. Ek verkies om myne gereeld te laat tint, want ek is blond en lyk soos ‘n witmuis met my natuurlike wit wenkbroue en wimpers.
  • Dit is ‘n uitkoms vir vroue wat om een of ander rede hul wenkbroue en wimpers verloor het.
  • Dit spaar tyd vir vroue wat soggens geen tyd het om grimering aan te sit nie, maar darem “na iets wil lyk”.
  • Die bedryf het baie gevorder en hou betreklik min risiko in.

Die nadele:

  • Daar is kanse op ‘n allergiese reaksie. Dit is taamlik raar, maar dit kan ‘n uitslag veroorsaak, selfs jare na die tyd. Jy kan ook keloïede ontwikkel, veral as jou vel daartoe geneig is.
  • As die permanente grimeerkunstenaar se toerusting nie absoluut steriel en higiënies is nie, kan dit infeksie of hepatitis C veroorsaak. En nog gevaarliker – die risiko vir VIGS. Maak seker sy gebruik ‘n nuwe, verseëlde naald wat voor jou oopgemaak word.
  • As ‘n mens ‘n mediese MRI skandering (cat scan) moet hê, kan die magnetiese veld se interaksie met die yster-oksied in die kleurpigment swelling of selfs brandwonde veroorsaak en die gehalte van die skandering beïnvloed. Jy moet die mediese tegnici vooraf inlig dat jy permanente grimering het.
  • Jy kan permanente grimering met laser laat verwyder, maar dit is duur en nie altyd ‘n sukses nie en kan littekens laat.
  • Daar is geen beheerliggaam in die bedryf nie. Daar is mense wat met die minimum opleiding, ervaring en veiligheidsvoorsorg op die wa spring om vinnig geld te maak.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *