VRAAG: Kan jy asb vir ons ‘n lys gee van produkte wat jy dink vir die ouer vrou se vel goed is wat nie n gat in ons pensioen gaan slaan nie? – Endika van der Walt, Stellenbosch op Facebook se Mooipraatjies Met Elsa

ANTWOORD: As daar een vraag is wat ek deur die jare die meeste van lesers gehoor het, is dit: “Ek kan nie luukse, duur velsorgmiddels bekostig nie. Wat kan ek gebruik om my verouderende vel bekostigbaar te behandel en beskerm?”
Ek het groot begrip hiervoor. As ‘n mens moet raap en skraap en alles raak net duurder, dan is ‘n luukse handelsmerk met rome en serums wat duisende rande kos ondenkbaar en onbereikbaar. Sjampanjesmaak op ‘n bierbeursie is nie maklik nie!
Die spreekwoord lui: Goedkoop is duur koop. Gelukkig is dit (gewoonlik) nie die geval met velsorgmiddels nie.
Glo my: Die geheim van goeie velsorg lê nie in die duurste rome en serums met eksotiese bestanddele van êrens onder die sneeupieke in die Himalayas nie; dit lê bloot in gereelde, toegewyde gebruik van die beste wat jy kan bekostig, of dit nou R30 or R3 000 is.
Kosmetiekprodukte word verdeel in:
Prestige (R1 000+)
Dit is die duur, status-handelsname (brands) soos Chanel, Estée Lauder, Lancôme, Clarins, Dior, Yves Saint Laurent, Sisley, Sensai, Shiseido, La Mer, Guerlain, Babor, Anessi, Elemis, La Prairie, Givenchy, Gatineau, dermalogica, Matis en ander voorste Amerikaanse, Europese en Japanse name. Ek is ook baie beïndruk met die Suid-Afrikaanse Optiphi kosmeseutiese reeks.
Hierdie handelsname is duur, weelderig verpak en bevat gewoonlik een of meer peperduur, rare, eksotiese bestanddele soos ekstrak van orgideë, see-alge of selfs goud of platinum wat almal ten duurste ontdek, nagevors en ontwikkel is om spesifieke voordele vir die vel te bied. Dit het ook ongetwyfeld ‘n sekere snobwaarde.
Prestige produkte vind jy gewoonlik in salonne, by kosmetiese dokters of in swierige afdelingswinkels soos Stuttafords en uitgesoekte takke van Woolworths en Edgars.
Masstige [Mass +prestige = masstige] (R200-R1 000)
In hierdie kategorie vind jy die beste van twee wêrelde – uitmuntende produkte met stewige navorsing agter hulle, bewese bestanddele en redelike pryse.
Ek noem dit “apteek” –name, want jy vind dit gewoonlik in apteke soos Dischem, Clicks en onafhanklike apteke. (In Frankryk het die sg pharmacy beauty brands ‘n kultus-aanhang en Amerikaanse en Britse vroue koop die rakke leeg wanneer hulle daar reis.)
Van die bekendstes is Clinique, Vichy, Kiehl’s, Nuxe, Sans Souci, Bioderma, Uriage, BioNike Defense Xage, Elizabeth Arden en Eucerin. Salon- en spa-reekse sluit in Dr Gobac Cosmeceuticals, Lamelle, Theravine (lg. drie is almal puik Suid-Afrikaanse produkte). Dis gewoonlik taamlik klinies eenvoudig en sonder tierlantyntjies verpak en baie kosmeseutiese reekse speel in hierdie liga.
Massamark Handelsname [Mass Brands] (R30-R499)
Soos prestige-name die haute couture van die skoonheidsbedryf is, is massamark-name die prêt-a-porter of pasklaar deel van die bedryf: Dit word in groot maat vervaardig en sonder fieterjasies verpak, met sakpaspryse wat toeganklik is vir Annie Allevrou.
En hier is die geheim omtrent hierdie produkte: Hulle werk.
Hoekom? Meeste van hulle is deel van enorme internasionale komglomerate met massiewe fondse vir navorsing en ontwikkeling. Neem die voorbeeld van die L’Oreal-groep, wat Lancôme, Yves Saint Laurent, Vichy, L’Oreal Paris, The Body Shop en Maybelline besit, om maar ‘n paar te noem. Die navorsers in hul laboratoriums ontdek en ontwikkel ‘n botaniese bestanddeel soos Pro-Xylane, afkomstig van ‘n suiker in beukehoutbome. Dit stimuleer die produksie van molekules wat die vel beskerm teen vogverlies. Dit word eerste (in ‘n sterk konsentrasie) in ‘n duur, eksklusiewe Lancôme-produk soos Absolue Precious Cells, bekend gestel. Met die loop van tyd word die bestanddeel meer geredelik beskikbaar en goedkoper om te vervaardig. En raai wat – nou kry jy kry dit in L’Oreal Paris se Revitalift Laser Renew en Garnier Ultra-Lift. Weliswaar in ‘n swakker konsentrasie van Pro-Xylane, maar die bewese voordele daarvan kan teen ‘n goedkoper prys benut word.
Dit is hoe dit werk. En daarom huiwer ek nooit om massa-skoonheidsprodukte van groot groepe soos L’Oreal, Proctor & Gamble, Unilever, Johnson & Johnson en Beiersdorf aan te beveel nie. Hulle het baie geld en toegang tot van die beste navorsing en ontwikkeling van bestanddele om dit bekostigbaar aan die massamark beskikbaar te stel. Terloops – die Duitse kosmetiese reus Beiersdorf besit nie net Nivea en Eucerin nie, hulle vervaardig ook die super-luukse La Prairie produkte.

Hier is my lysie van hoogs bekostigbare reekse vir ‘n ouer vel, wat ek self al probeer het en baie maklik in my inkopiemandjie in die apteek of supermark laat inglip wanneer my duur produkte begin skraps raak. (**Pryse word breedweg aangedui as gemiddeld vir die reekse):
- Nivea Visage Q10 Plus Anti-Wrinkle Energy (R149,99); Nivea Visage DNAge (R160); Nivea Visage Expert Lift (R195)
- Eucerin Volume Filler reeks (R210-R299)
- Olay Regenerist (R219-R269)
- Pond’s Age Miracle reeks (R129 – R139); Pond’s Gold Radiance reeks (R114,95- R199,95)
- Neutrogena Ageless Wrinkle reeks (R129). Die retinol-serum is veral een van my groot gunstelinge.
- Johnson’s se splinternuwe Hydration Essential (R48-R60) se 2-in-1 Facial Gel/Mask (R59,95) lyk besonder belowend om die vel behoorlik te bevogtig.
- Justine se A-Firm reeks (R460); Justine Tissue Oil reeks (R125-R220). Koop dit aanlyn of deur ‘n agent.
- Avon Anew Ultimate reeks (R183-R398). Koop dit aanlyn of deur ‘n agent.
- L’Oreal Paris Dermo Expert Revitalift Renew reeks (R119)
- Vichy Idéalia Life Serum (R529) en Vichy LiftActive Advanced Filler (R469) is bietjie duurder, maar elke sent werd
- Nip+Fab bevat lekker produkte soos Instant Radiance Wrinkle Fix (R334 by Clicks) vir spesifieke probleme
- Cosmetique E (R85-R340) is ‘n ou gunsteling wat terug is in SA
- Ordinary Skincare is ‘n wonderlike, geen-nonsens-nie reeks vir ‘n sensitiewe vel. (Al die produkte se pryse is onder R350)
- Cetaphil Terapeutiese Velsorgreeks deur Galderma is produkte wat deur dermatoloë aanbeveel word vir enigiets van aknee en droogheid tot rosacea en sonbeskerming. Jy kan nie daarmee verkeerd gaan nie. (R69,95 – R197,99)
Ek hoop dit help jou Endika, en ook vir al die Mooipraatjies-lesers wat versigtig na hul vel sowel as hul beursies wil omsien.
Wenk: As jou begroting jou soms toelaat om ‘n effens luukser produk te kan koop, bestee jou geld aan ‘n duurder serum en/of dagroom en bespaar deur ‘n goedkoper, goeie reiniger en verfrisser te koop. Dit hoef nie noodwendig dieselfde handelsnaam te wees nie.
Hallo Elaine. In alle eerlikheid, ek het nog nooit Vitaderm produkte probeer nie dus kan ek nie ‘n mening gee nie. As jou vel floreer daarop, hoor ek graag van jou en ander lesers se ervaring?
Hallo Elsa, wat dink jy van Vitaderm. Gebruik dit al seker +- 10 jaar. Nie in winkels beskikbaar.
Baie geluk met jou blog, Elsa! Dankie vir die artikel, dis voorwaar insiggewend!
Elsa ek kon nie vinnig genoeg deur hierdie lys gaan nie! Ek het skoon lighoofdig geraak van opgewondenheid om te sien dat daar hoop is vir my vel en my beursie! Ek druk dadelik hierdie uit en hou dit in my beursie vir my vlg aankope! Elke keer as ek gaan na ‘n skoonheidsalon en ek word gevra watse skoonheidsmiddels ek gebruik, word ek vertel dat dit wat ek gebruik net op die boonste laag vd vel werk en nie diep indring. Daar word vir my vertel dat hierdie duur produk wat hulle gebruik dit doen. Dan stap ek daar uit met ‘n sak produkte wat ek net nie weer vorentoe kan bekostig. Dieselfde met haarsalonne. Vlg die haarkapper is die produkte wat jy koop in ‘n supermark of apteek gemors. Is dit werklik so? Kan jy groot asb ook ietsie skryf oor haarprodukte – wat feite en wat bogstories is. Ook wat jou lys van duur tot goedkoop produkte is wat werk.
Baie dankie vir hierdie goeie raad en wenke!
Mooipraatjie groete
Endika