Die titel van hierdie blog-storie kan ook wees: Die Anti-ouderdom Avonture van ‘n Skoonheidskrywer…
Dit is geen geheim nie dat ek ‘n groot aanhanger is van verjongingsprosedures is. As daar iets nuuts is om plooie uit te stryk en vel fermer en jonger te laat lyk sonder om my na die snydokter se mes te wend, staan ek so flink soos ‘n troep in die Franse Vreemde Legioen in die tou.
Uit die aard van my werk is ek bevoorreg om dadelik te weet van nuwe trends en behandelings en ek is boonop gelukkig genoeg om dikwels genooi te word om dit eerstehands te beproef en ervaar aan die hand van vaardige, goed opgeleide dokters en terapeute.
Sommige prosedures toon dadelik resultate, andere neem tyd en herhaalde behandelingsessies en jy sien die ware resultate soms eers na verloop van weke of maande.
Mesoterapie / Mikro-naald Rollers/Mikro-Naald Pen
Sonette Donker van Skin ID deel kamers met Dr Anton Potgieter, ‘n bekende plastiese chirurg in Sandton en sy werk dikwels saam met hom om pasiënte die beste verjongingsresultate moontlik te bied. Sy is een van die beste terapeute in velskilfering (peels) wat ek nog in aksie gesien het en sy geniet hoë aansien hier en internasionaal. Sy lei gereeld terapeute internasionaal op in kosmeseutiese prosedures. Ek het verlede jaar ‘n demonstrasie gesien van haar gesien met die Réjuvapen en onlangs my vierde sessie van dié prosedure by haar voltooi.
Kyk die video daarvan hier:
Hoe dit werk: Die Franse tegniek van mesoterapie, waar vitamines en aanvullings in mikro-kanaaltjies gemaak met mikroskopiese naaldjies in die vel geplaas word, het gelei tot die ontwerp van ‘n stekelrige velroller wat met fyn naaldjies klein wondjies oor die hele gesig maak. (Dit is amper soos om ‘n vasgepakte grasperk met stekelrollers ‘lug’ te gee [areate] sodat die voedingstowwe diep kan indring.) Dit ontketen ‘n helende respons in die vel wat lei tot die vorming van nuwe kollageen, elastien en bloedvaatjies. Dit laat die vel plomper en gloeiend lyk.
Die jongste weergawe van die velroller is ‘n pen-variasie daarvan, onder meer die Rejuvapen (wat deur die FDA goedgekeur is), met sowat nege piepklein naaldjies wat tot ‘n beperkte diepte gestel kan word, afhangend van waar op die gesig gewerk word. Die pen word saam met peptiede (wat elastien en kollageenvorming stimuleer) gebruik en plaas die gaatjies en penetrasie van die produk meer sekuur as ‘n roller. Die naalde maak minatuurkanaaltjies in die vel oop om aktiewe bestanddele diep te absorbeer en die kanaaltjies sluit vanself sowat 24 uur later.
Die prosedure duur 45-60 minute. Erg verouderde of beskadigde vel sal 6-8 behandelings nodig hê met 2-4 weke tussen sessies. Resultate sal duidelik wees na 4 behandelings.
Verwagte effek: Vermindering van akneeletsels; plooie; hiperpigmentasie; algehele ververjonging; groter fermheid en lig-effek vir verslapte vel.
Prys: Sowat R1 200 per sessie.
Meer inligting: Sonette Donker, Skin ID
My ervaring: Sonette het gewaarsku dat my vel effens rooi en sensitief sal wees ná ‘n sessie, maar ek dit eers regtig ervaar ná die vierde sessie, toe sy al taamlik intensief kon werk en die Rejuvapen se naalde dieper kon stel. Sy het oor my hele gesig, hals en nek gewerk en dit was glad nie pynlik nie. (Vooraf smeer sy ‘n gel aan wat die vel lig verdoof.) Ek gril vir bloed en was maar bly ek sien nie wat sy doen nie, maar andersins is die ervaring heeltemal aangenaam – sy vertel dat sommige mense selfs aan die slaap raak onder behandeling! Sy het my huistoe gestuur met ‘n peptiede-jel wat die effek van die behandeling verhoog en ‘n velroom wat koper bevat om genesing te versnel. Dis ook belangrik dat ‘n mens die vel behoorlik met ‘n SPF50 sonskerm beskerm ná die behandeling, omdat die vel so sensitief is agterna.
My gesig was effens rooi na ‘n sessie, maar nie opvallend so nie, terwyl my nek en hals veel rooier was en minstens 48 uur daarna nog rosig gelyk het.
Ek het na elke sessie opgemerk dat my vel jonger en meer veerkragtig lyk en voel. Sowat twee maande na die laaste behandeling kon ek eerlik sê dat my vel vir my gladder, fermer en stralender lyk as voor die Réjuvapen-behandelings. Ek sal dit beslis weer doen, minstens twee maal per jaar vir ‘n opkikkerbehandeling as my vel moeg en futloos lyk.
LPG Endermolift

Dis splinternuwe Franse tegnologie wat einde verlede jaar in SA bekend gestel is, en reeds ‘n groot aanhang in Europa het. Dit is ‘n teenverouderingstegniek wat die vel se digtheid diep her-densifieer (redensify) om die spore van veroudering uit te wis.
Hoe dit werk: Die gesig word met ‘n mikro-suig en -lig aksie as’t ware masseer (soortgelyk aan die endermologie lyfbehandelings vir selluliet) om jong selle te stimuleer om kollageen en elastien te produseer. ‘n Sessie duur ‘n halfuur en dit voel heerlik, soos ‘n diep massering en daarna lyk plooie vlakker, asof dit van binne gevul is. Die verskil is onmidddellik sigbaar en verbeter met verloop van tyd.
Verwagte effek: Gloeiende vel; uitgestrykte kraaispore; herdefinieer, verferm en lig gesigkontoere; vlakker en minder opsigtelike naso-labiale lyne; jeugdiger nek en kleiner dubbelken.
Prys: R450 per sessie
Meer inligting: http://www.lpgendermologie.lv/endermolift-2.php
My ervaring: Dit is een van die lekkerste instrument-gedrewe gesigbehandelings wat ek in ‘n lang tyd ervaar het. Ek was in die bekwame hande van Pam Cochrane van Pamela Cochrane Therapy in Melrose Arch (082 560 5028). Om die waarheid te sê, ek wens ek het Voor en Na foto’s geneem sodat ek presies kan wys hoe treffend die resultate is. Dit is só vinnig en doeltreffend en kan ‘n hele gedaanteverwisseling sommer in jou etensuur teweeg bring. Pam het eers die een helfte van my gesig gedoen en ek kon duidelik in ‘n spieël die verskil tussen die twee kante van my gesig sien, met die mees dramatiese effek die duidelike lig van die appels van my wange na my wangbene toe (wat beteken die kakebeenlyn lig ook en lyk fermer), en die lelike keep tussen neus en mondhoek was sigbaar vlakker en gladder.
Dual Fraxel Laser of Fraxel Facial
Ek beoordeel elke jaar die Les Nouvelle Esthetiques tydskrif se Spa van die Jaar toekennings, en my gunsteling-afdeling is hotel-spa’s en medispa’s. By laasgenoemde kry ek dan gewoonlik die kans om ‘n hoogs gesofistikeerde behandeling met die jongste tegnologie te beproef. Een daarvan was die Dual Fraxel Laser Facial by plastiese chirurg Dr Mark Steinman se kliniek.
Die volledige term vir die prosedure is “fractional resurfacing” en dit beteken letterlik dat die veloppervlak herplavei word.
Hoe dit werk: Die lasers maak mikroskopiese klein gaatjies in die vel, sodat ‘n fraksie van die vel (omtrent ‘n derde van die veloppervlak) “beskadig” of beseer word. Dit ontsluit (trigger) ‘n helende respons onder die veloppervlak en por die liggaam aan om nuwe kollageen en elastien te vervaardig. Die resultate is fermer, stywer vel, minder plooie of letsels en kleiner porieë.
Verwagte effek: Die vel voel bietjie soos skuurpapier of ‘n “emery board” ‘n paar dae na die behandeling, maar skilfer dan liggies af en die nuwe vel is rosig, egalig, glad en stralend. Die tekstuur en gehalte van die vel is ooglopend beter en mooier.
Die proses is lig pynlik (3 op ‘n skaal van 10, afhangende van hoe kleinserig jy is) en vereis geen aftyd nie, tensy jy ‘n paar intensiewe sessies opeenvolgend moet kry – dan kan jou vel ‘n week tot tien dae neem om te herstel.
Aanbeveel vir: Pigmentasie; aknee en letsels; rekmerke; verslapte vel; onegalige veltekstuur
Prys: Vanaf R6 500
Meer inligting: http://www.drmark.co.za/
My ervaring: Suster Tammy Sinek, ‘n hoogs ervare verpleegsuster, het my behandeling gedoen. Sy het eers vir my op ‘n stukkie papier gewys hoe lyk die mikroskopiese “gaatjies” wat die laser in my vel gaan maak en toe ‘n verdowingsroom aan my gesig gesmeer. Die laserkop word ‘n paar keer oor ‘n area beweeg om die hele veloppervak ten volle te dek. Sommige mense sê dit is vir hulle pynlik, maar ek is seker maar dikvellig (!) want dit was vir my hoogstens so seer as wanneer jy jou vel herhaaldelik met ‘n elastiese rekkie skiet.
My vel was taamlik rooi ná die prosedure en Tammy het ‘n dik laag sonskerm aangesmeer (dis báie noodsaaklik) en my huistoe gestuur met ‘n buis van DermaQuest Post Treatment Balm wat rooiheid en inflammasie verminder en die vel beskerm en help genees ná ‘n chemiese of laser- prosedure. Na twee dae wou ek vir Tammy bel – my vel het soos ‘n rasper gevoel, grof soos skuurpapier en glad nie lekker om aan te vat nie. Gelukkig lees ek toe weer my instruksies en sien dis heeltemal normaal en te verwagte. Na ‘n week was alles weer terug na normaal en wat my die meeste opgeval het, is dat my gelaatskleur, veral by my nek en hals, baie meer eweredig was, my veltekstuur en poriëe fyner en my gesig se kontoere het beslis verferm.
Radio-frekwensie (RF) Vel-verferming en Kontoering met BTL Exilis Elite en BTL Vanquish
Ek ken die wonderlike Nicolette Wepener van BTL (die masjiene is afkomstig van Praag en geniet wêreldwye aanhang, maar is taamlik nuut in SA) al baie jare, en ek was glad nie skrikkerig om my gesig (en my lyf) in haar hande te plaas vir behandelings met dié masjiene wat sy aan estetiese dokters bemark nie.
Die BTL radio-frekwensie prosedures is ideaal as jy ‘n fermer kakebeenlyn begeer, of hardnekkige vet op plekke soos jou knieë, dye, maag, bo-arms of rug het. Die Exilis werk hoofsaaklik op die gesig, en die Vanquish op probleem-areas van jou lyf, soos maag, dye, bo-arms en die aardige bra-bulge wat homself in die middeljare so ongenooid kom tuismaak op ‘n vrou se rugkant. Dan is daar ook die BTL Protégé Intima wat veel verder suid dinge ook jonger, kleiner en fermer maak, maar meer daaroor later…
Hoe dit werk: RF hitte-energie word noukeurig geplaas (verskillende handstukke word vir verskillende areas gebruik) om dieper vellae te verhit en kollageenvorming te stimuleer. Die hitte krimp ook die los velweefsel, wat dit laat stywer trek en ‘n oplig-effek het. Minstens vier sessies is nodig om die beste resultate te kry. Die vetselle wat ”smelt” word natuurlikerwys deur die liggam uitgeskei.
Aanbeveel vir: Gesig :- Verslapte kakebeenlyn, bulhondwange (jowels), dubbelken, kalkoenvel-nek; Lyf :– vet op die maag, dye, bo-arms, bokant die knieë.
Prys: R2 000 per uur
Meer inligting: Talle estetiese dokters in Suid-Afrika het reeds die BTL toerusting by hul kamers beskikbaar. Volg BTL Aesthetics South Africa se FaceBookblad om uit te vind waar ‘n dokter naby jou die prosedures aanbied.
My ervaring: Ek het net twee Exilis Elite-behandelings vir my nek en kakebeenlyn gehad, en sien uit na nog ‘n paar sessies om die volle effek daarvan te sien. Ek het egter ‘n hele behandelingsprogram met die BTL Vanquish gehad om my maag en dye fermer en kleiner te maak. Die uurlange sessie kan by tye ietwat ongemaklik raak soos wat die velweefsel verhit, maar dan word die radio-frekwensie instrument bloot verder van jou lyf verskuif. Dit raak veral warm waar daar been vlak onder die vel is, soos by die heupbene, maar dis nie ondraaglik nie en ‘n mens is veronderstel om dadelik te praat en nie in stilte te ly as dinge te warm raak nie. Ná elke behandeling het Nicolette my in ‘n vakuumpak laat klim wat styf opblaas, saamtrek en ontspan om limfafdrywing aan te help en die liggaam aanpor om die vetselle wat vernietig is, uit te skei.
Ek het die behandelings nou oor ‘n tyd van 2-3 maande gehad en die resultate is dramaties sigbaar: My middellyn is feitlik terug (ek het gedog dis vir altyd skoonveld met die koms van die middeljare!), my dye is aansienlik slanker en lyk stukke beter in jeans en daardie hardnekkige vetrolletjie onder my naeltjie is nou wel nie heeltemal weg nie, maar veel, veel platter. Ek sal in der ewigheid nie kans sien vir ‘n groot operasie soos liposuiging onder narkose om my lyf slanker en beter gevorm te laat vertoon nie, maar hierdie radio-frekwensie prosedures is definitief wenners in my boek.
Die beste van alles is dat jy op ‘n bed lê terwyl die masjien die werk doen en jy het nie nodig om eindeloos in ‘n gimnasium te swoeg en sweet om koppige vet te verskuif of te verjaag nie, terwyl die presiese probleem-areas sekuur geteiken kan word.
Waarmee ek tans besig is:
Restylane Skin Boosters
Sedert ek verlede jaar as gas van Galderma Restylane in Berlyn was om aktrise Sharon Stone te ontmoet en met my eie oë te sien wat ‘n verskil hul vullers en Skin Boosters aan ‘n mens gesig maak, kan hulle in my oë net geen voet verkeerd sit nie. Ek was dus heel in my skik met die uitnodiging om self ‘n kursus Skin Boosters te beproef aan die hand van die talentvolle Dr Chris Giezing van Pretoria.
Hoe dit werk: Skin Boosters is inspuitings in die dermale vellaag, bestaande uit gestabiliseerde hialuroniese suur (HA) wat vog diep in die velweefsel plaas. Dit verhoog die voginhoud van die vel dramaties en die resultat is jonger, plomper vel en ‘n jeugdiger voorkoms. Die vloeistofampule is deel van die naald-instrument wat die vog in een aksie in die velweefsel plaas, dit verskil dus van mesoterapie waar eers gaatjies gemaak word, gevolg deur behandelingsvloeistof.
Aanbeveel vir: Letterlik enigeen kan baat by ‘n kursus Skin Boosters. Dit is fantasties vir verouderende vel wat progressief droër en dunner raak, vir nek, décolleté, hande en vel wat die tekens van foto-veroudering toon (pigmentasie, plooie), akneeletsels en merke, vel wat elastisiteit verloor het. Dit bring ook ‘n jeugdige gloed na die vel – ná ‘n kursus lyk dit lyk letterlik of ‘n lig agter die vel aangeskakel is.
Prys: Dit hang af van die dokter en hoeveel behandelings aanbeveel word vir jou spesifieke behoeftes.
My ervaring: Ek het nog net een sessie gehad, met twee wat nog moet kom. Met dr. Chris se demonstrasie op ‘n vrywilliger tydens die mediabekendstelling het ek amper flou geword om al die bloed te aanskou, maar sy het gesê dit is geensins seer nie, dit lyk net rof as jy ‘n toeskouer is. Dis maar net dat ek so ‘n sissie is – ek kan glad nie toekyk waar bloed loop nie!
Ek was nietemin baie kordaat om op die bed te klim toe Chris die Skin Booster “pistool”, gelaai met fyn naaldjies wat gevul is met vloeistof, in my rigting mik. En nee, dit is inderdaad nie seer nie en ek het nie nodig gehad om die bloed te aanskou nie. Twee dae later was ek egter in ‘n toestand van paniek – ek het gelyk soos ‘n gespikkelde tarentaal; vol klein bloedkolletjies en kneusmerkies onder my vel en met ‘n familietroue oor ‘n week! So lyk die selfie-foto’s van my vorderingsfases:

Chris het my dadelik gebel toe hy hoor van my angsaanval en my gerus gestel: Die rede dat ek so lyk, is omdat ek nie daaraan gedink het dat ek Ecotrin aspirien-bloedverdunners neem nie, en daarom maklik bloei en kneus. Voor my tweede sessie moet ek minstens 10 dae voor die tyd ophou om die asperine te neem. Hy het my verseker dat ek soos ‘n babe gaan lyk by die troue, en selfs nog beter ná die res van die Skin Booster-kursus. Dan gaan ek op 80 nog soos ‘n babe lyk, belowe hy my.
Of ek gaan vir die volgende twee sessies? Vir seker! By die troue was daar nie ‘n merkie op my vel nie en ek het ‘n klomp komplimente gekry oor my stralende (vlekkelose) vel. En ek wil immers soos ‘n babe lyk!
O ja terloops, die kolletjiesvel was baie maklik om te kamoefleer met Estée Lauder se Maximum Cover Lightweight Makeup – daar is niks beter as jy die dag iets behoorlik moet toesmeer nie!
Ek is 43 jaar oud en Ek is getroud en Ek is huisvrou. My vel net probleme vir plooie en gaatjie. Wat moet help dit vir vel plooie en gaatjie.
Ek is doof vrou WhatsApp 0815268444
Lekker geskryf, soos altyd!