My Seisoen Met SkinCeuticals

Soms wil ‘n mens mos nie jou eie oë glo of vertrou nie.

Veral as jy jouself elke dag in die spieël sien en gewoond raak aan geleidelike veranderings in jou voorkoms. Dan is ‘n vars oog nodig om te sien wat jy nie raak kyk nie.

Soos toe my Ma vanoggend oor ’n koppie koffie opmerk dat my vel ongelooflik mooi lyk. (Sy het my ‘n week laas gesien). Toe weet ek my Seisoen met SkinCeuticals het inderdaad uiters suksesvol gewerk.

Toe SkinCeuticals my ‘n paar maande gelede genader het om ‘n seisoen lank net hul produkte te gebruik, saam met gereelde A. velskilferings, het ek gespring vir die geleentheid. Daar is min produkte op die mark wat by dié kosmeseutiese reeks kan kers vashou en die kans om die hele reeks vir ‘n paar maande behoorlik te beproef, was onweerstaanbaar.

Heel eerste het ek ‘n konsultasie met Christelle de Wit, produk- en opleidingsbestuurder van SkinCeuticals gehad. Nadat ek ‘n stel omvattende vorms ingevul het met vrae oor my vel se geskiedenis (ja, ook die slegte sonaanbiddingsgewoontes van my jeug), my kwinte en kwale, die velsorgprodukte wat ek gebruik, medikasie wat ek neem, my mediese geskiedenis en wat ek verwag van produkte, het sy my vel letterlik onder die vergrootglas (‘n Visia skandeerder) gesit en ontleed.

My vel in daglig (links) en onder die Visia lig wat al die skade en probleme uitwys. Onder is die ontleding van alles wat ‘n mens nie met die blote oog kan sien nie.

image003 copy

Sy het gevind dat my vel ietwat gedehidreer is, dat daar plek-plek tekens van pigmentasie en sonskade is, sensitiwiteit en rooiheid waar my vel dun is (by my neus en ooglede) en tekens van veroudering in die vorm van fyn lyne en verlies van fermheid.

My vel kon ook baat by gereelde chemiese velskilferings (peels) met geleidelike toename in die konsentrasie van die glikoliese suurformule. Dit sou nie net help met vinniger selvernuwing nie, maar my vel ook in staat stel om die produkte ten beste te absorbeer.

Christelle het die volgende SkinCeuticals produkte (kompleet op ‘n voorskrifvorm met instruksies) vir my voorgeskryf:

Soggens:

  1. Gentle Cleanser
  2. Equalizing Toner
  3. C E Ferulic Serum High Potency Triple Antioxidant Treatment
  4. Retexturing Activator
  5. A.G.E. Interrupter Moisturiser
  6. A.G.E. Eye Complex
  7. Ultra Facial Defense SPF 50+

Saans:

  1. Gentle Cleanser
  2. Equalizing Toner
  3. Retinol 1.0 Maximum Strenght Refining Night Cream 1-2 keer per week. Wag 20 minute voor die res van die roetine
  4. Resveratrol BE Antioxidant Night Concentrate
  5. Triple Lipid Restore 2:4:2 Moisturiser

Sy het beklemtoon dat ek slegs ‘n baie dun lagie van ‘n produk nodig het  – die produkte is geformuleer om laag-op-laag aangewend te word (layering). Sy het gesê dat ek na ‘n week of twee ‘n goeie aanvoeling sal ontwikkel vir hoeveel ek van ‘n produk nodig het en hoe die laag-proses werk. As enige produk te ryk is, of as ek voel ek het meer vog nodig, moes ek haar raadpleeg en dan kan sy verstellings maak.

Afgesien van reinigers, verfrissers en vogrome, werk SkinCeuticals intensief op ‘n stelsel van Prevent/Protect/Correct.

In my geval:

Prevent: Die antioksidante serums (C E Ferrulic, Resveratrol BE Antioxidant Night Concentrate) neutraliseer vrye radikale en versterk die vel se verdediging daarteen en voorkom skade deur besoedeling en omgewingsfaktore.

Protect: Sonskerm wat UVA/UVB strale afweer (Ultra Facial Defense SPF 50+) beskerm die vel teen foto-veroudering en velkanker.

Correct: Formules wat die vel herstel, pigmentasie ligter maak en die veloppervlak herstruktureer (Retexturing Activator, Retinol)

Maar eers moes ek reg begin: Christelle het my eerste ligte chemiese velskilferingbehandeling gedoen met Skinceuticals Glycolic Lactic Acid Peel For Photodamaged Skin wat 20% glikoliese suur en 10% melksuur bevat. Dié behandeling gee nuwe lewe aan sonbeskadigde vel en help om fyn lyne en plooie beter te laat lyk. Dit was ‘n vinnige, pynlose prosedure, met net ‘n effense tintelende sensasie.

Ek is met my ligblou sakkie vol produkte daar uit en vir die volgende drie maande het ek getrou Christelle se instruksies gevolg.

Product collage
Die produkte en verpakking vertoon klinies, skoon en mooi – en bowenal lyk dit sommer na ernstige velsorg.

 

Ek was half skepties oor die aantal produkte: Sewe produkte vir ‘n oggendroetine? Maar soos Christelle voorspel het, het ek baie gou in die ritme daarvan gekom en spoedig het dit vir my gevoel my vel “vra” as’t ware vir die volgende laag in die volgorde. ‘n Mens gebruik regtig bitter min – my produkte het ‘n volle drie maande gehou. In ag geneem dat dit ‘n duur reeks is, is dit goeie waarde vir geld.

Wat het met my vel gebeur?

Aanvanklik het ek bedenkinge gehad oor die retinol van 1.0%. My vel is gewoond aan retinol, maar ek gebruik gewoonlik 0.5% want ‘n hoër persentasie kan die vel irriteer, iets wat inderdaad al met my gebeur het. In die eerste 10 dae het my vel baie effens dooie vlokkies gemaak, wat dit veronderstel is om te doen, en die nuwe vel was beslis varser en plomper. Toe het ek mak geraak vir die retinol en dit drie keer ‘n week begin gebruik sonder om Christelle daaroor te vra. Gelukkig het my vel baie goed reageer, maar sy het haar wenkbrou ietwat daaroor gelig toe ek ‘n paar weke later terug rapporteer het vir my volgende behandeling en konsultasie.

Haar inspeksie het getoon dat my vel gladder vertoon en die lyne was vlakker.

Die tweede skilferbehandeling was met ‘n sterker glikoliese suurformule en ek is nou beslis ‘n geswore aanhanger van ‘n gereelde “peel” – dit maak my vel absoluut stralend en jeugdig.

Teen hierdie tyd was ek in ‘n gemaklike ritme met my tuissorg-roetine en my vel was gewoond aan die produkte. Dit was duidelik ‘n produk-dieet wat met my vel geakkordeer het: Die velkleur het meer egalig geraak, my lyne het vlakker vertoon en die porieë op die T-sone was minder merkbaar met die blote oog. Ek was veral verslaaf aan die super bevogtigende Triple Lipid Restore 2:4:2 Moisturiser. Ek het nie besef hoe gedehidreer my vel was voordat ek dit begin gebruik het nie.

Ek moes gewoond raak aan ‘n afsonderlike sonskerm, want gewoonlik gebruik ek vogrome en onderlaag wat reeds sonskerm bevat. Gelukkig is die SkinCeuticals produk so ragfyn en dun dat dit nie na ‘n ekstra laag produk voel nie. Die C&E Ferulic serum is al lank ‘n gunsteling omdat ek hou van die kombinasie van kragtige anti-oksidante wat dit bevat om vrye radikale wat die vel verniel, te beveg.

Dermaplaning: Ek beland Onder die Mes

Met my derde besoek aan Christelle het sy my onder die skalpel gesit! Ja rerig! SkinCeuticals stel binnekort hul Dermaplaning-behandeling bekend in Suid-Afrika – tans word dokters en terapeute nog opgelei in die tegniek. Ek het dus ‘n “sneak peek” van die prosedure gekry. (Ek skryf binnekort elders in Mooipraatjies meer oor dié neiging wat nou groot is in Europa.)

As enigiemand ooit vir my gesê het ek sal selfs net daaraan dink om die fyn donshaartjies op my vel met ‘n skalpel af te skeer (eintlik af te skil) sou ek hulle hartlik uitgelag het – ‘n skeermeslem op my gesig??

Maar ‘n mens moet nooit sê “nooit” nie. Christelle het behendig met haar skalpel die fyn perskedons op my gesig, saam met die boonste laag dooie vel, afgeskil en ek kon nie glo hoe sag my vel gevoel en hoe gloeiend helder dit gelyk het nie. Ek was doodbang die donshaartjies gaan hard en donker teruggroei, soos ‘n baard, maar nou, ‘n maand later, is alles terug na normaal. Ek het ‘n foto direk na die behandeling van naderby geneem van my wang, waar die skalpel ‘n kolletjie hare gemis het, en ‘n mens kan die verskil duidelik sien. En daar is ook ‘n vergelyking met hoe my gesig lyk noudat die donsies terug op hul plek is.

Links: My vel ná die Dermaplaning prosedure. Middel: Die verskil tussen die geskeerde vel en die perskedons. Regs: My vel nadat die perskedons terug gegroei het.

Drie maande later: My produkte is nou byna gedaan en ek moet myself keer om nie hiper-suinig daarmee te wees nie, want my vel het lanklaas so goed gelyk en gevoel. Ek moet nog een laaste velafskilfering by Christelle doen, en sien uit daarna om die lente met my fyn, stralende vel te begroet.

Gevolgtrekking: My Seisoen met SkinCeuticals het regtig met my geakkordeer. Ek dink ek is oorgehaal om nog een te doen!

 

 

One Reply to “My Seisoen Met SkinCeuticals”

  1. Still one of my all time favourite skincare brands. Need to start using my CE Ferulic again! Great post my friend. X

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *