SKANDES EN SKANDERINGS

 

Die maand van Mei het my, danksy die jongste tegnologie en navorsing, penorent laat sit van skrik. Oor my vel én oor my lyf.

Velskanderings en DNA analise van my genetiese merkers het ‘n paar wrede waarhede tuisgebring en my uit my rustige waan geruk dat alles wel is. Toe nie…

SISLEY Aram Huvis-vel skandering

Eerste was dit die SISLEY vel-analise met hul Aram Huvis Scanner, wat nou by al hul Edgars-toonbanke beskikbaar is. Dié skandeerder laat jou sien wat op ‘n baie diep vlak in jou vel aangaan en waar toekomstige probleme kan lê en sluimer.

Die skandeerder is by alle SISLEY toonbanke in Edgars beskikbaar.

Die vel word getoets en gemeet aan jou eie ouderdomsgroep se gemiddelde lesing. Die lesing sluit in:

  1. Hidrasie/elastisiteit: Vogvlakke vertel alles oor die vel se veroudering.
  2. Sebum: Bepaal veltipe
  3. Aknee: Onsigbare kongestie
  4. Porieë: Grootte van porieë en veltekstuur
  5. Melanien: Pigmentasie areas en die erns daarvan op diep dermisvlak, wat onsigbaar vir die oog is
  6. Plooie: Diepte en ernstigheidsgraad
  7. Hemoglobien/sensitiwiteit: Areas met gebreekte aartjies en rooiheid

Afhangende van die lesing, bepaal die skandeerder of jou vel goed vaar of intensiewe sorg in ‘n sekere area verg.

Die  lesings het my nogal laat skrik, veral ten opsigte van pigmentasieskade. Kyk self hoe het dit gelyk:

Die Opsomming
Hidrasie en Porieë lyk goed.

 

 

Plooie het intensiewe aandag nodig, sensititiwiteit en rooiheid is nie ‘n probleem nie.
Pigmentasie en aknee/kongestie op dieper dermisvlakke, onsigbaar vir die oog, is ‘n probleem wat intensiewe aandag vereis.

Aknee? Hierdie lesing het my dronkgeslaan, want ek het nog nooit aknee gehad nie. My terapeut het verduidelik dat die lesing dui op onsigbare kongestie diep in die dermis, wat kan wees omdat my vel nie behoorlik detoks nie.

Dit klop met verdere openbaringe wat op my gewag het met die vel-DNA analise wat ek die volgende week gehad het. (Lees meer hieroor onder.)

 

Optiphi en DNALYSIS Genotype ontleding

Net ‘ n week later bied Optiphi, die formidabele dermaseutiese maatskappy van Irene, my die kans vir  ‘n volledige DNALYSIS  verslag oor my vel (in samewerking met Optiphi velsorg navorsing), my lyf en my dieet. Dis hier waar ek my disnis geskrik het.

‘n Eenvoudige DNA monster word van die binnekant van jou wang geneem met ‘n spesiale wattestokkie, wat dadelik verseēl word – nes in my gunsteling CSI- forensiese speurstories op televisie!

Die DNA Skin ontleding van jou genetiese samestelling rus jou toe met die kennis om te weet wat die genetiese risikofaktore vir jou vel is, en Optiphi se terapeute kan dan na gelang daarvan die regte produkte en behandeling vir jou spesifieke behoeftes voorskryf.

Die DNA Skin Plus ontleding sluit ’n omvattende verslag in van genetiese faktore betreffende jou vel, dieet en leefstyl/gesondheid sodat jy ‘n holistiese program kan volg waarby nie net jou vel nie, maar ook jou gesondheid sal baat. 

Die prys van die DNA analise wissel van R2 500- R4 300, afhangende watter opsie jy kies.

Ek was bevoorreg om die DNA Skin Plus van die DNALYSIS laboratoriums in Illovo, Johannesburg, te ervaar.

Die toetspakkie is by my afgelewer, ek het die monster aan die binnekant van my wang geneem, verseël en laat afhaal. So maklik soos dit en niks moeite nie.

Twee weke later was die verslag en aanbevelings oor my vel in my in-boks en ek het ‘n afspraak gehad met Toni Brien, ‘n dieetkundige, wat die twee verslae oor voeding en leefstyl met my deurgegaan het en my oë wawyd oopgemaak het vir ‘n paar dinge wat ek nie geweet het nie – of stellig nie wóú weet nie. (Meer hieroor in ‘n aparte blog-pos.)

Die verslag oor my vel is 11 bladsye lank, die een oor voeding is 12 bladsye en gesondheid en leefstyl beslaan ‘n gewigtige 22 bladsye.

Ek was taamlik in my skik met die vel-ontleding, wat 6 areas ontleed. Wat betref fermheid en elastisiteit; sensitiwiteit en pigmentasie; sonskade en detoksifikasie, is daar geen genetiese rooi ligte nie, maar oksidasie-stres (vrye radikale wat nie genoeg met anti-oksidante beveg word nie) is medium, en so ook inflammasie, wat eweneens ‘n medium prioriteit is. Verhoogde inflammasie lei tot vroegtydige veroudering, en dit is vir my beslis nie ‘n aantreklike vooruitsig nie!

Aanbevelings: Ek moet  ‘n velserum gebruik wat anti-oksidante, L-karnosien en Vit B3 bevat. Die  Optiphi moet-hê produkte wat ek behoort te gebruik, is deel van die Active Range. Die Ageless Activegel teiken pigmentasie, detoksifikasie en inflammasie; Protecting Revitalizer teiken kollageenvorming, sonskade en inflammasie en Moisture Control Light verskaf deurlopende hidrasie en versterk die velwand. 

Die inligting in die verslag word só uiteengesit:

 

Wat kan ek doen?

Dieet en leefstyl-aanbevelings sluit in dat ek ‘n anti-inflammatoriese dieet moet volg, wat baie groente en vrugte insluit en aanvullings neem van omega 3 vetsure, curcumin (borrie), gemmer, resveratrol, selenium en sink, asook ‘n goeie pro-biotiese aanvulling.

Ek moet my gewig bestuur en meer oefening kry. En my genetiese merkers verklap my soettand, wat al hoe erger word met die jare. Met ‘n koeksister kan jy my in ‘n wip vang! (Meer hieroor later, want Projek Postuur is besig om op dreef te kom!)

Die ontledings oor voeding en gesondheid het bevestig dat oksidasie en inflammasie geneties my grootste probleme is, en kan lei tot groter probleme as ek nie daaraan aandag gee nie. Oor die algemeen is my gene nogal imponerend goed (dankie Ma!), maar dié twee areas is rede tot kommer.

Ná my uurlange konsultasie met Toni Brien is ek taamlik bedees huistoe om diep na te dink oor my sondige soettand-weë en hoe ek die toekoms gaan aanpak.

Sy het ook vir my ‘n eetplan en inkopielys uitgewerk, want ek sal glo floreer op ‘n dieet met meer vis, minder vleis, min vet, komplekse koolhidrate, geen suiker of wit stysel nie. Banting sal nie vir my werk nie, want my gene-merkers wys ek verwerk nie vet nie. Interessant genoeg, het ek van kindsbeen af gegril vir vetterige kos.

Alles wat sy vir my gesê het, het geklop met wat ek weet, maar nie altyd doen nie. Dit het my ook herinner aan The Perricone Prescription deur Dr Nicholas Perricone MD, ‘n eetprogram met klem op vis en vars groente, wat belowe om jou binne 28 dae jare jonger te laat lyk en voel. Toni se eetplan stem grootliks ooreen daarmee.

Met ander woorde, ek hét die toerusting en die kennis – ek moet dit net toepas.

 

Beauté Pacifique DermaScan

Laaste op die lys, alles binne ‘n kwessie van weke, was ‘n Beauté Pacifique Dermascan, waaroor ek nie juis besorg was nie, want al my vorige skanderings het gewys my vel is buitengewoon ryk aan kollageen.

Nog ‘n skok. Sedert my laaste skandering in 2015 het die kwaliteit van my vel se kollageenvlakke drasties afgeneem.

My vel se kollageen-inhoud in 2015, in vergelyking met 2018 (middel) en die vel van ‘n 45-jarige vrou (regs). Die middelste foto wys duidelik die donker kolle waar kollageen verdwyn het en die gebrek aan kollageenvormende fibroblaste (die geel stafies, wat ontbreek in die middelste foto), asook die verswakte, dunner velwand (die liggeel streep).

Daar is feitlik geen retinolsuur in my vel nie, wat die vervaardiging van kollageen moet afskop en stimuleer. Dit beteken dat die retinol wat ek gereeld saans aanwend, nie die dieper vlakke van die dermis bereik nie en die veerkragtigheid van my vel raak verswak.

Debbie Wolfendale, wat die Deense Beauté Pacifique-velsorgprodukte invoer, het my met ‘n potjie van hul fantastiese Crème Métamorphique Vitamin A Anti-Wrinkle Crème huistoe gestuur, wat ek nou absoluut getrou saans gebruik.

Ek kan nie wag vir die volgende skandering nie, om te sien wat die resultate sal wees.

 

** Wil jy ook ‘n Beauté Pacifique DermaScan skandering en velontleding ervaar? Mooipraatjies bied einde Junie ‘n werkswinkel aan saam met Beauté Pacifique, waar jy kan leer oor doeltreffende, ernstige velsorg aan die hand van jou individuele velontleding. Daar is plek vir net 8 mense per sessie en dit sluit verversings en ‘n grimeerles ook in. Hou die Mooipraatjies Facebookblad dop vir meer inligting.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *