Valentynsaand was nie vaal nie. Maar dit het die res van my jaar dusver in vervalling gelaat en vervaal!
Almal wat gewonder het waarom Mooipraatjies nie juis baie praatjies maak nie, hier is die kort storie:
Februarie was ‘n nat maand, en 14 Februarie het dit gesous. Dit was ook Eskom se kragkrisis, dus was dit donker en nat toe ons so elfuur tuis gekom het van ons lekker romantiese Valentynsviering. Beurtkrag was reeds vier ure aan die gang, die noodligte het nie meer gebrand nie. Met my selfoonflits en handsak nog oor die arm, het ek kerse gesoek, my rubbersole het vasgesteek op die los Persiese mat en ek het soos ‘n boom geval, op die harde teëls.
Die wêreld was momenteel donker maar toe my kop helder is, het ek besef: Iets is groot fout. Vat my hospitaal toe, vra ek my versteen geskokte man.
By noodgevalle is X-strale gedoen en ‘n verdoemende uitspraak: My skouer is op drie plekke gebreek. Ek moet dadelik in die trauma-afdeling opgeneem word. Daar lê ek toe drie-uur in die oggend met ‘n drup in my arm. Weens die swelsel (en die interessante kneus-kleurkombinasie) kon die ortopediese chirurg eers drie dae later opereer.
In die teater het sy my behendig aanmekaar getimmer met 7 titaniumskroewe, ‘n plaat en ‘n sny van so amper tien sentimeter, netjies met oplosbare steke weer toegeryg.
Toe volg ‘n week in die trauma-saal, waaroor ek boekdele kan skryf. Maar ek sal julle dit spaar. Genoeg om te noem dat slaap nie juis daar gebeur nie.
Arm in ‘n slinger en voorskrifte vir ‘n fisioterapeut, pynpille en anti-inflammatoriese medikasie is ek huistoe.
En vir 3 maande mag ek nie bestuur nie. Ek en Uber het dik vrinne geword.
Hier is wat ek geleer het omtrent ‘n regterarm wat buite aksie is:
Jy moet jou persoonlike versorgingsroetine aanpas. Jou beste gereedskap in jou toiletsakkie is:
- Reinigingslappies soos Cetaphil Gentle Skin Cleansing Cloths. Dit verwyder onsuiwerhede, olie en grimering, soggens en saans (dink julle ek gaan sonder oogomlyner of lipstif in ‘n hospitaalbed lê?)
- ‘n Soniese tandeborsel wat vanself die werk doen as jy die knoppie druk. Jou arm kan nie heen en weer beweeg nie.
- Droë sjampoe.
- Gesig-olie en ryk vogroom. Jou vel droog uit in ‘n hospitaalsaal en min slaap laat jou verlep lyk.
- Eweneens lyfroom of -olie nadat die verpleegster jou 4-uur uit die bed gepluk het om te gaan bad.
- Pajamas wat voor toeknoop.
Tuis gekom, was daar nog openbaringe:
- ‘n Man is baie behendig om ‘n vrou te kan uittrek, maar het nie ‘n benul van jou aantrek nie. Kamisole pleks van bra’s is ‘n redding. Klim van bo af in, daar is nie ‘n manier om dit oor jou kop te trek nie. Of kry boob-tubes of bra’s wat voor toeknip.
- Maskara met ‘n linkerhand is ‘n rampgebied – panda-oë is jou voorland. Gebruik liefs net ‘n sagte donkergrys oogomlyner.
- Vergeet van self hare was en droogblaas. Die haarsalon is jou voorland. Vir lank. Dankie tog vir Tanaz Hair & Beauty hier om die draai van my.
- ‘n Rekenaar se muis praat nie met jou linkerhand nie – die merker lyk soos ‘n dronk spinnekop wat oor die skerm slinger.
- ‘n Mens moet klere hê wat voor kan toeknoop – ‘n arm wat nie werk nie, kan nie ‘n kledingstuk oor jou kop trek nie.
Daar is nog, maar julle kry die prentjie.
Die heel grootste les wat ek uit hierdie ervaring met my saamneem?
Soms moet ‘n mens nederig raak en hulp vra en aanvaar. Dit was baie erg om bystand te vra om my brood te smeer of my kos te sny, maar ek moes dit gelate en met grasie aanvaar. My man, my ma en my huishulp, asook my kring van sielsuster-vriendinne het laer getrek om my, en ek is hulle ewig dankbaar.
Uiteindelik kon ek weer bestuur en toe skop die ydelheid in: Ek het pas laas somer ontdek hoe mooi en lekker skouerlose tops is (jou skouers is die laaste om te verouder) en nou het ek ‘n onooglike litteteken om ten toon te stel!
Gelukkig werk ek in ‘n bedryf waar produkte en prosedures en bowenal kenners, volop en nie suinig met hul raad, hulp of produkte is nie.
Projek Sierlike Sny
My vel genees gewoonlik nogal goed van beserings, meer hierdie lang en diep sny het hulp nodig gehad. Soos elke vel-ekspert jou sal vertel, moet ‘n litteken behandel word terwyl dit nog rooi is en voordat dit wit raak, dus moet jy begin behandel daaraan sodra die steke geheg het en jou chirurg sê dis in die haak om enig iets anders as haar antibiotiese salf te gebruik. Doen jy dit nie, sit jy met ontsierlike keloids en ‘n opgehewe letsel.
Op die foto’s is die letsel net voordat behandeling begin het, en die ultraklank skandering van Beaute Pacifique wys hoe diep die sny was, met die swart kol waar daar geen kollageen in die weefsel is nie.

Kollageen was dus heel bo aan my lys. Ek moes dit elke dag inneem om die been te help heg en die beseerde weefsel te help nuwe kollageen vorm. My Ma het vir my bone broth gemaak om te drink, en ek het daagliks ‘n lepel kollageenpoeier by ‘n smoothie gevoeg. Om kollageen op die vel aan te wend, is nie so doeltreffend as om dit te drink as ‘n dieetaanvulling nie, omdat dit nie diep genoeg penetreer nie.

Eers het ek DermaClinical My Body Younger Pure Collagen Hydrolysate gedrink, toe Phyto Pro Collagen Booster en tans drink ek elke dag ‘n ampule van die Franse Collagen Lift Paris, wat sommer enige plooie ook in hul visier kry terwyl dit elastisiteit en hidrasie bevorder.



Van buite af het ek die probleem getakel met eerstens Optiphi se Body Curve Scar Therapy Stetch Mark and Scar Corrector wat geformuleer is om om die voorkoms van vel-letsels wat deur trauma veroorsaak is, te verbeter. Dit versterk die vel strukture en verhoog die vel se hegtheid, sodat die letsel nie net beter vertoon nie, maar die vel se elastisiteit en fermheid verbeter. Dit stimuleer ook die vorming van kollageen.

Die opgehewenheid van die wond het sigbaar uitgestryk en gladder geraak terwyl ek dié produk gebruik het, en die erge rooiheid het begin kalmeer.
Ek het ook die Largavita NADplus+ Complex aanvulling begin neem. Dit bevat anti-oksidante wat inflammasie teenwerk; NAD+ kompleks wat sel-energie stimuleer, DNA beskerm en bewese teenverouderingeienskappe het; Detoksifikasie-kompleks wat help met lewer-regenerasie en detoksifikasie. Ná al die antibiotika en pynmedikasie het my lewer beslis hulp nodig gehad. Ná so twee weke se gebruik van dié kapsules kon ek regtig voel dat my energie begin woema optel.

Volgende aan die beurt was Sothys Cosmeceutique se RS Regenerative Solution met glikosiel- en hialuroniese suur vir verswakte vel. Met hiérdie Franse produk het ek opgelet dat die tekstuur van my vel rondom die sny fyner en digter raak. Ek was hoog in my skik met my vordering sover.

Dinge raak lelik
Maar o wee, dit is toe dat my lyf besluit sy verseg om oplosbare steke te absorbeer – dit moet buitetoe, nie binnetoe nie. Ontsteekte rooi knoppies het oral langs die sny begin vorm. Dit gebeur soms, het my chirurg my verseker, terwyl sy die stekies wat by die oppervlak deur die vel begin kom het, verwyder het. Daar kom nog ‘n hele spulletjie wat nou op pad boontoe beur na die epidermis, het sy gewaarsku.

Tyd vir Groot Kanonne
Vir hierdie petalje was ek niks lus nie en ek is reguit na terapeut Sonette Donker, eienaar van Skin ID Clinic in Morningside, toe. Sy het net ná die operasie reeds aangebied om met haar Rejuvapen mikronaaldbehandeling die wond weer mooi te maak wanneer dit eers genees het. “Sodra die wond genees het en terwyl dit nog rooi is, kom dat ons dit kan ‘needle’.”
Nie net stimuleer die mikronaaldbehandeling die vorming van kollageen en bekamp dit keloide-vorming nie, dit help ook die stekies wat nog diep in die weefsellae is, vinniger uitkom of selfs oplos.
Sonette het gereken dat ons sowat ses Rejuvapen sessies sal benodig, een per maand. Sy het met elke sessie ook ‘n afskilferingsuur (peel) aangewend, om die velhernuwing nog vinniger te aktiveer. Sy het vir my opvolg tuisbehandelingsprodukte gegee van Dermaceutic, om die naaldbeserings gouer te laat genees en die rou vel ná die skilfering te beskerm.


Naaldbehandeling is natuurlik ideaal saam met aktiewe serums, en telkens as die ergste rooi van die Rejuvapen verdwyn het en die vel afgeskilfer het, het ek dit twee maal daagliks met die Spaanse Endocare Tensage Concentrate ampules (bemark deur Genop Healthcare ) behandel.

Hierdie serum (een van ‘n stel van drie verskillende serums) bevat hoë intensiteit groeifaktore en genereer nuwe kollageen, elastien en hialuroniese suur. Ek gebruik dit nog steeds.
Dit is nou amper sewe maande later en op die foto’s hierby kan julle sien hoe my letsel besig is om te genees.

En o ja, ek sien ook ‘n fisioterapeut weekliks en doen my oefeninge sodat ek weer self my hare kan droogblaas!
November Nuus

Sjoe, jy is deur die meule, Joan! Ek voel vir jou. Die lewe kan ‘n mens darem soms ‘n paar taai klappe gee, sommer almal tegelykertyd! Ek wou nie in hierdie blog skryf daaroor nie, want dan word die storie darem te lank en treurig, maar net toe ek weer agter ‘n kar se wiel kon inskuif, het my man vir twee maande in die hospitaal beland weens ‘n hospitaal “superbug” en boonop ‘n kwaadaardige melanoom op sy arm ontdek. Dinge is nou weer onder beheer, hoop ek, maar vir 2019 wil ek nooit weer sien nie!
Ek het n jaar en n half van trappe geval, altwee my hand gewrigte gebreek. Toe ek hierdie lees, het ek myself vereenselwig met jou pyn, hulpeloosheid en afhanklikheid vir hulp! Ek vertrou dat so iets nooit ooit weer met my sal gebeur nie. Gedurende hierdie trauma was my man, nou oorlede in n versorgingsoord vir verswakte persone e my dogter, 43 jr met MNS.Grootste uitdagings ooit!