Somer se Sensuele Parfuums

Dis somer, dis amper vakansietyd en dis tyd om iemand te bederf (of bederf te word) met ‘n lieflike parfuum.

Dié somer se nuwe parfuums is ‘n sensuele,  blomryke viering van vroulikheid en daar is ‘n verruklike oes aan nuwe geure om op verlief te raak. Moenie wag nie, gaan toets ‘n paar by die naaste toonbank en begin droom oor die een wat nommerpas is vir jou. Hier is ‘n dosyn van die bestes, mooi in ‘n S gerangkik – die S staan vir Sexy Scent, natuurlik!

AERIN Ikat Jasmine_Bottle

Aerin Lauder EdP (50ml R1495 net HIER aanlyn te koop)

‘n Mens kon verwag dat  die talentvolle kleindogter van die beroemde Estée Lauder kort voor lank haar hand aan haar eie reeks parfuum gaan waag. En watter lieflike vyf geure is die Aerin-reeks nie. Sy baseer dit op emosie, leefstyl en aspirasie. Elke geur vertel ‘n storie, van ‘n seevakansie, aande voor ‘n kaggelvuur tot ‘n wandeling in ‘n blomoortrekte veld. Die parfuums is speels, modern en stylvol. Kies uit Gardenia Rattan, Amber Musk, Lilac Path, Ikat Jasmine en Evening Rose. Die Ikat Jasmine hierbo kombineer Egiptiese jasmyn en Sambac-jasmyn met eksotiese tuberose, kanferfoelie (honeysuckle) en  sandelhout. Dit is verruklik as jy hou van ‘n blomgeur.

KJ_Modern Muse Le Rouge_Product Shot_Global_Expiry September 2016

Estée Lauder Modern Muse Le Rouge (50ml R1 065)

Die nuwe variasie op Modern Muse is uitdagend en sexy en die vrou wat dit dra, skrik nie vir rooi nie: Dit is haar kenmerk-kleur, want sy het selfvertroue en styl. ‘n Kombinasie van ryk roosgeure en ryp vrugtegeure soos framboos, vermeng met pink peper, saffraan, magnolia en jasmyn. Dis nie ‘n geur vir ‘n muurblommetjie nie – jy sal raakgesien en -geruik word.

FullSizeRender

Crabtree &Evelyn Black Absinthe Eau de Cologne (R>>>>)

Jy en jou man sal ewe gaande wees oor hierdie cologne, wat ewe geskik is vir mans as vir vroue. Dis aromaties en sag speseryagtig, ietwat kruie-agtig, met ‘n bittersoet en houtagtige geur. Jy tel iets op van vinkel, swart licorice (soetwortel) en anys, geanker in vetiver. Ek is gek daaroor vir ‘n koel, interessante somergeur.

SisleyFullSizeRender

SISLEY Soir d’Orient EdP (100ml R2 639)

In my oë kan SISLEY nie ‘n voet verkeerd sit nie. Hul Eau de Soir is al jare my heel gunsteling parfuum, en nou kom hulle met hierdie eksotiese, soel balsemende parfuum vir geheimenisvolle somernagte… Soos die naam aandui, val dit in die Orientale parfuum-kategorie. Dit ruik na rokerige roos, vars speseryagtig en warm met note van bergamot, saffraan, Turkse roos, geranium en wierook. Lieflik, as jy hou van ‘n tikkie Oosterse misterie.

SI_Huile de Parfum_Bottle&Box_Face_Reflet

Giorgio Armani Si Oil Perfume (30ml R1 395)

As jy nie teen die tyd weet dat olie  in alle vorme “‘n oomblik beleef” nie, dan bly jy nie op Planeet Aarde nie, of jy stel net mooi niks belang in mooimaakgoed nie! Giorgio Armani Sì Huile de Parfum is letterlik parfuumolie, en ‘n nuwe, intense variasie van die gewilde parfuum waarvan  die stylvolle aktrise Cate Blanchett die “gesig” is. Parfuum in olie-vorm is hoogs gekonsentreer en jy het net ‘n druppeltjie (uit ‘n pipet-druppertjie) daarvan nodig om ‘n lieflike geur te versprei wanneer dit opwarm van jou vel se hitte. Ek is mal hieroor.Mimosa&Cardamom_Cologne_100ML_1MB

Jo Malone Mimosa & Cardamom Cologne (100ml R1 480)

‘n Waas van heuningryke goue mimosa gekombineer met die onverwagte spesery-agtigeheid van kardamom. Dit is die perfekte geur vir daardie boheemse gypsy in jou wat smag om uit te kom en te speel. Jo Malone se geure is ongewoon en veelsydig – dit gee jou kans om dit te kombineer met ander geure in haar versameling (hierdie nuwe geur werk goed saam met Red Roses of English Pear & Freesia) of dra dit net so. Dit is, benewens cologne, ook in lyfprodukte en ‘n 200g kers beskikbaar.

AngelFullSizeRender

Thierry Mugler Angel Eau Sucrée EdT (50ml R695)

Dink vars rooibessie sorbet en karamel meringue en meng dit met vanilla en patchouli – jy wil sommer daaraan proe! Vir Angel-aanhangers sal hierdie beperkte opgawe net so verslawend soos malvalekkers wees. Dit is net ‘n beperkte opgawe (limited edition) en as dit klaar is, is dit klaar; spring dus gou as jy lus is vir hierdie lekker (letterlik!) geur.

image002

Chanel Chance Eau Vive EdT (50ml R1 565)

Ja toe, vat die kans, jou geluk lê straks in die sterre! Dis die perfekte somergeur vir aanhangers van die CHANEL Chance reeks. Dit bevat note van verfrissende pienk pomelo vir ‘n vars sitrusgeur, en blom oop in jasmyn en wit muskus plus vetiver. Jy voel sommer sprankelend en lewenslustig as jy dit aanspuit.

150008-LANCOME-NewLVEB-02-EDPIntense-V1

Lancôme La Vie Est Belle EdP Intense (75ml R1 700)

Hierdie parfuum is nouliks drie jaar oud, maar reeds die derde grootste verkoper in die wêreld. Ek reken as ‘n mens ‘n parfuum dra wat sê die lewe is mooi, dan verklaar jy eintlik ‘n voorneme en manifestasie van geluk. Dit is ‘n positiewe boodskap waarin ons almal wil glo en vashou, veral in hierdie ontstuimige tye waarin ons nou leef. En ons behoefte aan die “belle vie” word net groter, dus is daar nou Belle Intense! Die geur se intensiteit word verhoog met twee nuwe note by die bestaande wenresep, naamlik tuberose (soetemaling is die mooi Afrikaanse woord daarvoor) en haselneut. Die res is steeds daar – iris, jasmyn, lemoenbloeisel, patchouli en amberhout. Dit is nou pas op die rak – gaan leer dit gerus van naderby ken.

FullSizeRender

Oscar de la Renta Flor (100ml R995)

Die befaamde ontwerper Oscar de la Renta is vroeër vanjaar oorlede, maar sy naam en verbysterende talent en goeie smaak leef voort. Oscar Flor is ‘n variasie op die tema van sy eerste parfuum in 1977 en is geïnspireer deur sy fabelagtige tuine, onder meer in die Dominikaanse republiek, waar hy gebore is. Dit is ‘n suiwer blomgeur met note van neroli, jasmyn en muskus. Die geur spreek van elegansie en vroulikheid.

Always Red secondary packaging

Elizabeth Arden Always Red EdT (100ml R795)

Die nuwe parfuum in die Elizabeth Arden-stal is ‘n spanmaat vir die gewilde Red Door. Always Red is ‘n Orientale blomgeur. Dit daag jou uit om die dorp te gaan rooi verf. Jy ruik note van rooi pruim, bloedlemoen en grenadilla, met ‘n hart van Sambac-jasmyn, freesia en roosblare wat geanker word met rooi amber.

BOUCHERON Quatre

Boucheron Quatre EdP

Die naam Boucheron is sinoniem met Parys en stylvolle juwele. Die inspirasie vir hierdie bottel en verpakking is die beroemde en gesogte Boucheron vierpand-ring van wit en geel goud en diamante. Die prop van die bottel is daarop gebaseer. Dit is ‘n blom-en-vrugte geur met ‘n houtbasis. Jy ruik bitter lemoen, suurlemoen, pomelo, jasmyn, roos, aarbeie, perske en appel. Elegant en glad nie opdringerig nie.

2 Replies to “Somer se Sensuele Parfuums”

  1. Hallo Karien. Sisley is beskikbaar by uitgesoekte takke van Edgars. As jy sukkel om dit te vind, sal ek vir jou ‘n kontaknommer laat kry. Laat weet my.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *