Somer se Sondes, Skandes, Skades en Skoonheidsflaters

Terwyl ek nou my tone dieper in die sand op die strand hier by Hermanus sit en inwikkel (en daar is ‘n goeie rede waarom ek hulle nie wil sien nie of wil hê enigiemand anders moet hulle sien nie!) sit ek ‘n lysie en maak van die dinge wat my somervakansies sabotteer.

tanned-bikini-body

  1. Self-verbruining (Self-tan)

Ek moet bieg: Ek en self-tan en my voete kon dit dit net nog nooit regkry om mooi saam te speel nie. Êrens eindig my enkels en my tone alewig met ‘n liederlike skakering van oranje of roesbruin!

En ek sweer blou ek doen alles reg: Ek smeer eers lyfroom of olie aan my afgeskuurde (exfoliated) voete en dan bewerk ek dit heel laaste, ná die res van my lyf, ligkens met die selfverbruiner. Maar nee, as ek weer kyk, is dit ‘n ramp wat met groot moeite en baie energie en wisselende grade van sukses afgeskrop moet word met skuurroom, suurlemoen en puimsteen.

Ek bevind my darem in goeie geselskap. In haar redakteursbrief nou onlangs skryf Linda Wells, redakteur van die tydskrif Allure, onder die opskrif “What You Learn After Decades as a Beauty Editor” dat sy ook nog nooit die kuns kon bemeester van voete wat reg lyk by die res haar kamma sonbruin lyf nie.

Ek gebruik die wonderlikste en heel beste sonverbruiners (Caribbean Tan, St Tropez, Xen-Tan en Tan Towel is na my mening die bestes, terwyl Sisley die heel beste selfverbruiner vir jou gesig het) maar die ding van die voete, helaas, boul my nog steeds uit. As enigiemand ‘n perfekte plan hiervoor het, hoor ek graag van jou!

PicMonkey SELFTAN 2Collage

Sweetweerder en onsierlike vlekke

Die ding van sweetweerder en geel of wit vlekke op somerklere het ek darem nou onder die knie, reken ek. Ek het ‘n broertjie dood aan geel merke in die mouholtes van my wit somerklere, of wit opdrifselmerke op my swart bostukke.

Wit merke word veroorsaak deur die aktiewe bestanddele in sweetweermiddels. Dit vorm dan ‘n neerslag op klere en verkleur die materiaal, dikwels permanent.

Danksy Dove, Shield, Garnier en Nivea se jongste deodorant formules, kan jy hierdie somer wit of swart of enige kleur van die reënboog dra, droog en welriekend bly en jou toppie of rok sal nie daardie lelike, verkleurde merke en skade kry nie.

PicMonkey Deo Collage

 

Die nuwe Dove Invisible Dry is hul eerste deodorant wat op 100 kleure (van wit tot swart en alles tussenin) getoets is. Dit los geen merke op klere nie.

Bravo!

  1. Krulle en kroese

My hare krul van nature. Maar nie mooi egalige lokke of ringlets nie – elke anderhalf duim op my kop het ‘n koers en ‘n wil van hul eie.

So lyk ek op 'n slegte kroesiehare dag!
So lyk ek op ‘n slegte kroesiehare dag!

 

Die afgelope drie jaar of so het ek betreklik vrede gemaak met my wilde boskaas, danksy die wondere van die sg Brazilian Blowout keratienbehandeling. Die heel beste wat ek probeer het, en sekerlik in die nuwe jaar voor sal teruggaan, is die Evolution Keratin salonbehandeling. My ander gunsteling is La Brasiliana. Ek vertrou hierdie twee produkte; daar is nog steeds heelwat kontroversie rondom dié behandeling en onbeheerde formaldehied-konsentrasies wat sleg vir jou gesondheid en hare kan wees. Ek bly veral baie ver weg van enige keratienbehandelings wat te goedkoop klink om waar te wees – dit is gewoonlik vrot Chinese namaaksels.

PicMonkey Keratin Collage

Net voor ek weg is met vakansie het ek besef my keratienbehandeling is heeltemal uitgewas en my hare raak weer woes en wild. Daar was nie tyd om ‘n sessie in te pas nie (dit neem so lank as 2-4 ure) en ek sou die see moes trotseer sonder my gebruiklike keratien-veiligheidshelm. En glo my, my hare kroes as ek net by ‘n ketel verby stap!

Gelukkig het die dierbare Shelene Shaer van Tanaz Hair & Beauty haar oor my ontferm en my ‘n vinnige les gegee in die regte manier om vriende te maak met my hare hierdie vakansie.

Kortliks lê die geheim daarin om jou hare sopnat te los en nie winddroog te laat word voordat jy dit probeer tem nie. Deurweek nat hare met mousse vir krulhare of krulroom (Marc Anthony, Moroccan Oil en Kerastase het goeies) en begin dan stringe hare om jou vingers rol (amper soos die outydse lokke met ou sykouse). Werk in lae, van die onderste laag in jou nek tot bo by jou kroontjie en los jou hare dan doodstil uit tot dit droog is. Maak die lokke liggies los wanneer dit droog is, en dit behoort minstens 3 dae mooi te hou. Bly weg van ‘n haardroër – dit laat die hare net uitpof en ontplof.

Hier is ‘n kort videogreep van Shelene se Krulle 101 les vir my:

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *