Soniese en Elektroniese Gesigborsels – Is dit die Moeite en die Geld Werd?

Ons hier in Suid-Afrika suig al jare lank aan die agterste speen wat betref soniese gesigborsels. En nou het ons eensklaps sommer ‘n keuse van nie net een nie, maar drié daarvan!

Op die rakke is reeds Clinique Sonic System (R1 600) en Olay Regenerist 3 Point Advanced Rotating Super Cleansing System (R334,99). Vroeg in 2015 land Clarisonic Sonic Cleansing System (R2499 – R3499) in Stuttafords, danksy L’Oreal.

Ek is gek oor elektroniese “goeters” en skoonheid dingesies (ja sowaar, dis die regte Afrikaans vir gadgets)!) en besit al ‘n paar jaar lank ‘n Clarisonic Pro wat ek in Amerika gekoop het, want ek kon oudergewoonte nie wag tot dit uiteindelik eendag hier land nie.

En pas in die land is nog ‘n nuwe lekkerte om uit te toets: Die Foreo Luna Dual T-Sonic wat met silikoon borsel-polspunte werk, Sweeds van oorsprong is en jou glo terstond jonger laat lyk. Dit beland binnekort op my tafel en dan vertel ek meer…

Clarisonic is natuurlik die moeder van die soniese reinigers en het dit eerste gepatenteer. Nadat Oprah een daarvan aan elkeen van haar ateljeegaste uitgedeel het, het omtrent elke ander vrou in Amerika ook een gaan koop. Daar is tot op datum 5 miljoen Clarisonic apparate wêreldwyd verkoop.

Wat kies jy en wat kan jy verwag?

Ek het die afgelope paar maande al drie die dingesies gebruik en vergelyk.

Wat jy moet weet omtrent soniese en elektroniese reinigers

Wat is Soniese Reiniging?

Die borselhare op die kop van ‘n soniese borsel ossileer (oscillate) teen ‘n presiese soniese frekwensie. Clarisonic was die eerste om van dié tegnologie gebruik te maak, en is ontwerp deur dr Rob Atkins, die uitvinder van die Philips Soni-care tandeborsel.

Soniese vibrasies is sag en diepreinig die vel baie effektief. Die vinnige heen en weer swaaibeweging van die borseltandjies reinig die vel diep deur grimering te verwyder, porieë skoon te maak en dooie vel sagkens af te skilfer (exfoliate). Die berei die vel ook voor om velsorgbestanddele beter te absorbeer.

Dieper velreiniging raak deesdae al nodiger weens toenemende besoedeling van die lug en omgewing, met rook, stof en chemikalieë in die lug om ons. Gewone waslappe, reinigers en water maak net nie meer hond haaraf nie.

Hoe werk dit?

Die belangrikste is om te weet of die borsels roteer, ossileer of vibreer. Regte soniese borsels ossileer. Die ossileer-aksie behels ‘n kombinasie van beweeglike en onbeweeglike nylon borselhare wat heen en weer beweeg teen ‘n tempo van 300 aksies per sekonde. Die tegnologie werk met die vel se elastisiteit om diep gesetelde onsuiwerhede te lig en te verwyder en die vel voor te berei om serums en rome te absorbeer.

Roterende borsels beweeg in ‘n sirkelaksie eerder as heen en weer. Borsels wat vibreer of pulseer beweeg nie heen en weer of in sirkel-aksies nie; dit stimuleer bloedsomloop en reinig die vel deur sagkense vibrasie en pols-aksies. Die borsels werk met verseëlde batterye en is volkome waterdig, dus kan jy dit in die stort gebruik.

Maak die borsel nat, wend jou reiniger (skuim, gel of room) aan op die borselkop, skakel dit aan en hou dit liggies teen jou gesig. Die borsel loop op sy eie krag; jy kan net jou hand liggies daarmee oor jou gesig beweeg, die skrop- en skuurwerk word vir jou gedoen.

 Wat is die doel daarvan?

Die borsels is meerdoelig:

  • Verwydering van grimering en diepreiniging van verstopte porieë, die lig van olie en dooie selle wat diep in plooie, lyne en kraters op die vel bly lê.
  • Verwydering van dooie vellae, wat selhernuwing stimuleer
  • Hidrasie danksy beter penetrasie van aktiewe bestanddele in velsorg produkte. Grimering glip ook gladder aan en ‘n mens gebruik minder grimering omdat jou vel suiwerder en mooier is
  • Voorkoming en behandeling van aknee en probleemvel en vermindering van sebum
  • Teenveroudering. Die stimulasie van bloedsomloop en verbeterde spiertonus, tesame met beter velgehalte en penetrasie van aktiewe produkte, werk alles mee om die vel se jeugdigheid te behou of herwin.

Is dit veilig – sal dit nie my vel beskadig nie?

Al dié produkte maak daarop aanspraak dat dit uiters sagkens met die vel werk. Die borselhare is met mikrobiologiese tegnologie só gemaak dat dit nie die vel skraap of krap en fyn skeurtjies veroorsaak waardeur vog kan ontsnap of die vel se beskermingsmantel versteur word nie. Dit kan met gemak twee maal per dag gebruik word, behalwe in die geval van baie sensitiewe of geïrriteerde vel.

Watter resultate kan ek verwag?

Volgens The Beauty Brains* het internasionale toetse deur P&G* en Dr Zoe Draelos* bevind dat ossilerende en roterende borsels inderdaad die vel beter reining en grimering doeltreffender verwyder as bloot ‘n waslap of jou hande; dit het beter afskilferingsresultate as ‘n skroproom en bevorder beslis hidrasie van die stratum corneum.

CLINIQUE 100961D_kv_nrefl_COL(1)
CLINIQUE Sonic System

Clinique Sonic System (R1 600)

Dit belowe: Clinique se soniese borsel was die eerste om sy buiging in Suid-Afrika te maak. Die toestel roem hom op ‘n uiterste sagkense behandeling (gentleness) van die vel, so sag dat dit op ‘n roosblaar gebruik kan word sonder dat dit kneus! Dit belowe nietemin om die begrip van ‘n “squeaky clean” vel na ‘n nuwe vlak te voer wat jou in ekstase sal hê oor die verbeterde kondisie van jou vel.

Hoe dit werk: Dit het ‘n soniese, ossilerende borsel. Die borsel se kop is gevorm met twee borselhaarteksture (bristles) – ‘n stewige tekstuur met groen borselhare vir die T-strook (voorkop, neus en ken), en sagter, wit borselhare vir wange en die res van die gesig en nek. Dit kom met ‘n staander met ‘n koord wat by ‘n rekenaar se USB-gleuf ingedruk word om te herlaai. Die gelaaide battery hou besonder lank – amper ‘n maand. Die borsel moet gereeld vervang word, minstens elke drie maande of wanneer dit voos raak.

Ek sê: Ek vind die borsel inderdaad baie sag en vel-vriendelik. Dit is veral geskik vir sensitiewe vel. Ek verkies ‘n bietjie meer kragdadigheid, daarom is die Clarisonic my eerste keuse (maar ook heelwat duurder).

Ek vind ook die 30 sekonde tydmeganisme, wat die borsel vanself afskakel om jou sessie te beëindig, ‘n bietjie kort en effens irriterend. Dit sou vir my beter gewees met ‘n 1-minuut tydfase. Ek hou daarvan om my vel vir ‘n volle minuut met die borsel te reinig.

Die resultate: Ek het ‘n duidelike verskil in die helderheid, sagtheid en fynheid van my vel gesien.

Clinique beveel nie aan dat jy die borsel saam met ‘n skroproom (soos Clinique 7 Day Scrub) gebruik nie – dit kan die vel oorstimuleer.

Die Clinique soniese stelsel is ook sagter op die beursie, en dit is nie te versmaaie nie. Daar is voordele en nadele aan die herlaaier – as jy nie ‘n USB gleuf of rekenaar byderhand het nie (of sonder ‘n skootrekenaar reis) gaan dit nie maklik wees om die battery te herlaai nie, maar dit is ‘n baie kompakte en handige tegnologie as jy in elk geval ‘n huis vol elektronika het.

Verkrygbaarheid: Dit is wyd verkrygbaar by Clinique toonbanke en ook aanlyn by www.clinique.co.za

Punt: 7.5/10

Front PLUS on Cradle
Clarisonic PLUS

Clarisonic Sonic Cleansing System (R2 499 – R3 499) by Stuttafords einde Januarie 2015

Dit belowe: Clarisonic roem hulself daarop dat dit “6x beter reinig as hande alleen”. Hulle sê ook dat die borsel porieë in plekke wat moeilik deeglik bygekom kan word (rondom die neus, op die ken, langs die slape) diep reinig en dat dit met volgehoue gebruik vergrote porieë verklein en fyner maak. Die borsel het ‘n reuse aanhang in Hollywood, onder vroue sowel as mans, met name soos Brad Pitt en Angelina Jolie (‘n mens wonder of hulle verskillende kleure het?), Bradley Cooper en Amber Valetta as aanhangers. En Oprah, natuurlik.

Hoe dit werk: Daar is drie groottes van die Clarisonic beskikbaar: Die reisgrootte Mia2 met ‘n USB-koord (R2 499); Aria (R2 999) en Plus (R3 499). Laasgenoemde kom ook met ‘n lyfborsel. Dit het ‘n staander wat elektries inprop en die apparaat herlaai. Dit het ‘n kragtige ossileer-aksie, maar jy sal dit nooit te hard teen jou vel kan druk nie, want die borselhare hou gewoon op met draai as daar te veel drukking is. Jy kan ‘n sessie ook nie oordoen nie (tensy jy regtig wil) want daar is ‘n tydmeganisme wat biep wanneer jy na die volgende area op jou gesig moet verskuif, en na 1 minuut stop die apparaat outomaties. Die borselkop moet gereeld vervang word, want die ossileringsaksie verswak en word ondoeltreffend as die borselhare te sag en oud word. Borsels kom in verskeie variasies, vir sensitiewe, normale en olierige veltipes.

Ek sê: Die ossileer-aksie is veel kragtiger as Clinique se soniese borsel, maar dit hang regtig af wat jy verkies – ‘n sagte of ‘n sterker aksie.

Die bykomstighede, soos borsels vir die nek en lyf in die geval van die Pro, maak dit veelsydig en prakties.

Ek vind die ossileringsaksie heel strelend, amper soos ‘n massering, en verbeel my sommer dit oefen en verstewig my gesigspiere en vel-tonus ook. Byna soos ‘n gim-sessie vir die gesigspiere.

Die Clarisonic is die duurste soniese reiniger opsie, maar kom in drie groottes en prysklasse. Dit is, soos die gesegde lui, die goue standaard. Hulle was eerste en is steeds die beste.

Verkrygbaarheid: Eksklusief by takke van Stuttafords

Punt: 9/10

Olay Regenerist Brush
OLAY Regenerist Brush

Olay Regenerist 3 Point Advanced Rotating Super Cleansing System (R334,99)

Dit belowe: Deeglike, diep reiniging en behoorlike benutting van velsorgprodukte wat daarmee saam gebruik word.

Hoe dit werk: Dit is ‘n roterende borsel en werk met gewone AA batterye wat vervang kan word. Die batterye hou ongeveer 3 maande. Daar is ook ‘n hervul van die borselkop wat apart verkoop word en vervang moet word sodra die borselhare te sag word (minder as R100). Dit het ‘n lekker hanteerbare ontwerp en pas perfek in ‘n mens se hand.

Ek sê: Ek het (vanselfsprekend!) myne al lank terug in Amerika gekoop en ek is gek daaroor. Dit is die perfekte reisgenoot – geen elektriese koorde en proppe nie, en die vibrerende, roterende aksie van die besonder kragtige borseltjie is baie strelend. Dit maak my gelaat stralend skoon. Die ergonomiese ontwerp pas knus in ‘n mens se hand en maak dit maklik en ‘n plesier om te hanteer. Dit is weliswaar nie ‘n soniese borsel nie, maar dit is ‘n baie goeie begin as jy wil eksperimenteer met die sensasie van ‘n elektroniese borsel-reinigingstelsel.

Verkrygbaarheid: Dischem, Clicks, Foschini’s.

Punt: 7/10

 

*Navorsing:

http://thebeautybrains.com/2014/10/14/are-sonic-facial-cleansers-better-for-your-skin-the-beauty-brains-show-episode-52/

 

 

 

5 Replies to “Soniese en Elektroniese Gesigborsels – Is dit die Moeite en die Geld Werd?”

  1. Dankie vir hierdie artikel! Ek stel baie belang om meer uit te hoor van die Foreo Luna Dual T-Sonic. Ek het meer gaan lees op Foreo se Facebook blad en dit klink na ‘n produk wat ek moet he!! Ek sien baie uit na jou volgende artikel daaroor, Elsa!

  2. Dankie vir die wenk oor Sorbet, Sara-Lea. Ek voorspel ons gaan, noudat die damwal gebreek het, ‘n stortvloed van hierdie skoonheidsapparate sien.

  3. dankie vir die volledige artikel! Dit help baie. Sorbet het ook nou ‘n borsel in samewerking met Clicks. So titsel goedkoper as Olay. Sal graag wil weet wat jy daarvan dink in terme van die roterende borsels. Sal vir my enetjie moet kry!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *