Van Goud na Silwer – My Pad na Silwergrys Hare

Soms “praat” ‘n mens se hare mos met jou.

silver-collage

Myne doen dit beslis, en sommer baie luidrugtig ook. So vertel my hare toe vir my so hier einde Oktober dat die tyd nou aangebreek het: Uit met die highlights om die silwer en grys te verdoesel of uit te balanseer, en in met ‘n nuwe voorkoms – ons gaan die grys ‘n kans gee en ‘n Silwer Vos word. Ek weet mos daar is ‘n agterdeur: As dit aller-aaklig lyk, dan word ek gewoon weer blond.

Vir ‘n artikel wat ek vir Rooi Rose gedoen het oor Mature Couture het Michael Conlin van Pure Hair vir my gesê ‘n mens is gereed om die transformasie na grys te omarm en aan te pak as jou hare meer as 65% grys is. Dié syfer het in my kop vasgesteek.

****

Hier is ‘n uittreksel uit die artikel:

Silwer Vosse

Saam met die Mature Couture kom… die Silwer Vosse!

Kyk maar op Pinterest hoeveel prikborde daar is wat mooi (en lang) grys hare as tema het (ek het ook een!). “Grey is the New Blonde” en “Grey Glam Is In” sê die opskrifte, en bloedjong trendy vroue sit die haarsalonne vol om hul hare silwerwit te kleur, want dit is nou hoogmode.

Silwer hare is nou die “in-ding” en hy sien al hoe meer vroue met mooi jong gesigte onder grys kapsels, sê haarstilis Michael Conlin van Pure Hair in Dunkeld, Johannesburg. “Dit gaan saam met die modeneiging na pastelskakerings, wat silwergrys hare perfek komplementeer.”

As jy besluit om nie meer jou grys hare weg te kleur nie, is dit beter om dit geleidelik te doen, want dit kan nogal ‘n skok wees om eensklaps op te hou kleur en grys uit te groei, waarsku hy.

Moet dit ook nie oorweeg om “grys te gaan” as net 30% van jou hare grys is nie – dit verg te veel kleursel en harde werk om die res daarby te laat inpas. Laat jou stilis jou hare begin spoel met “toners” wat lila, ligpienk en staalblou skakerings weerkaats en die geel ondertone neutraliseer.

****

Toe die wonderlike haar-ghoeroe Shelene Shaer van Tanaz Hair & Beauty dus vir my sê my hare is nou 70% grys, het ons besluit om die reis aan te pak na grys/silwer – ‘n proses wat ses maande gaan duur, met behulp van L’Oreal Professional se haarkleurprodukte.

Vaarwel blonde strepe en byderwetse balayage (ek skryf ‘n aparte stuk oor dié behandeling) en aangename kennis aan swart pigment en silwer toner.

Hier is foto’s van die eerste twee sessies met Shelene, waar sy my grysblonde hare geleidelik begin transformeer na volwaardige silwergrys/platinumsilwer. Teen Maart aanstaande jaar behoort die gedaanteverwisseling voltooi te wees. (Ja, ek het dieselfde top met albei sessies gedra – ek is ‘n skepsel van gewoonte!)

 

Sessie 1 : OKTOBER 2016

 

sessie-1
Sessie 2 : NOVEMBER 2016

Hier is Shelene se riglyne oor grysword:

Ja-a-a, grys is mooi, maar wees versigtig, waarsku sy. Om jou hare agter ‘n modenuk aan silwerwit te kleur, is drasties en dons jou hare deeglik op.

Dit verg verskeie intensiewe chemiese prosesse om die hare van alle kleur te stroop en dit hou nie lank nie. Maar, as jy reeds grys word en besluit om jou silwer hare te aanvaar en omarm, dan moet jy dit stap vir stap saam met jou haarstilis doen  vir ‘n mooi elegante oorgang, veral as jou hare in die sout-en-peper stadium van vergrysing is. Dit kan 1-2 jaar neem om die treffende silwer voorkoms te kry waarna jy mik, sê sy.

Die voordele van die aanvaarding van jou grys hare is dat dit jou op die lange duur tyd en geld spaar, sê Shelene. “Maar dan moet jy ook leer hoe om jou grys hare reg te hanteer – dit het ‘n heel ander aard en tekstuur as gewone hare.”

Produkte

Dit beteken ook ‘n mens moet stellig jou sjampoe en opknapper verander.

Ek het net voor ons die grys-en-silwer proses aangepak het, weer eens handdoek ingegooi met my krulhare wat net eenvoudig te wild geraak het, en ‘n Brasiliaanse keratienbehandeling gehad om die ergste krul en kroes te tem. Dit is raadsaam om so ‘n proses te doen voordat jy met kleurprosesse begin, omdat dit die kleur van jou hare en jou duur tint kan verander, sê Shelene.

‘n Brasiliaanse keratienbehandeling vereis ook sjampoe wat sulfaatvry en sodiumvry is, anders “lek” die keratien uit die haarskag.

Op die oomblik gebruik ek dus twee stelle sjampoe en opknapper, wat ek afwissel, albei van die absoluut wonderlike INOAR  haarsorgprodukte uit Brasilië.

Die eerste is INOAR Flowers Cherry Blossom Shampoe en Opknapper (R490 vir ‘n duo pak) wat ruik soos lente in ‘n bottel. Kersiebloeisels is ‘n anti-oksidant wat die kopvel stimuleer vir gesonder haargroei en glans, terwyl dit ook die hare bevogtig. Een van die grootste probleme van grys hare en krulhare is dat dit ‘n ewige dors het na vog. My hare het ‘n pragtige, opsigtelike glans as ek dit gebruik. Dit is geskik vir alle haartipes

Die tweede stel produkte wat ek gebruik, is die INOAR Absolut Speed Blond Sjampoe en Opknapper (R490 vir die stel). Dit is spesiaal geformuleer vir blonde en grys hare sowel as hare met ligstrepies (highlights) om die skakering van die hare te behou of verbeter en enige geel wat deurslaan, te neutraliseer. Jy skrik nogal as jy dit die eerste keer op jou hand uitgooi – hierdie produk is BLOU!

fullsizerender-2-copy
Die opknapper is links en die sjampoe regs

Dit bevat ook anti-oksidante en argan-olie en verleen glans en soepelheid aan die hare. Ek was verstom oor hoe dit die geel wat deurslaan, onmiddellik na ‘n glansende silwerwit glim omskep het.

Die INOAR-produkte kan aanlyn bestel word en is nou ook beskikbaar by alle SORBET Dry Bars. Dit is ‘n produkreeks wat die PETA-stempel dra, wat beteken dat dit nie op diere getoets is nie.

Volgende week gaan ek vir my derde behandeling en ek het dit beslis nodig, want die meeste van swart/donker pigment is uitgewas en my hare wil-wil weer begin dofgrys en pampoenkleur raak!

Die reis gaan voort…

Die derde sessie

img_7731
Sessie 3 : DESEMBER 2016

Drie weke gelede, net voor die Desembervakansie begin, was dit tyd vir die derde sessie in my silwer/grys projek.

Shelene verduidelik: “Ek wil nie nou highlights doen nie, daar is nog nie genoeg hergroei van die hare nie. Wat ons nou wil doen, is om jou hare so natuurlik moontlik te laat uitgroei. Dan sal ons die grys ten beste beklemtoon (enhance). Wat ons voorheen gedoen het, was highlights, wat amper die grys wegsteek, plek van dit uit te lig.

collage-colour-wheel
Die boonste twee foto’s wys hoe die middelstrook van my hare vergeel het, met ‘n oranje skynsel. Op die kleurwiel neutraliseer pers oranje – dit is die proses waardeur ons nou gaan.

 

“Met die eerste sessie was daar baie geel/oranje, die tweede sessie was die oranje heelwat minder en ons het sterk as (ash) gegaan. Dit het verrassend lank gehou, wat beteken die tint spoel al minder uit, dit kry nou ‘n houvas. Waar dit uitwas, is waar jou hare donkerder is en ons dit voorheen ligter gemaak het.

“Ek wil ‘n baie ligte streep op daardie middelstrook doen, maar daar is nog nie genoeg hergroei nie, dus gaan ek heelwat van die as kleurspoel insit. Dit sal die kleur koel maak. Jy sal net moet onthou om soveel moontlik ‘n hoed te dra wanneer jy by die see is, want die hitte bleik die hare. Ons moet sonskade op die boonste laag hare sover moontlik beperk.”

Die finale goedkeuring vir my nuutste haarkleur het gekom van Shelene se kat, wat hom op my skoot kom neervlei en verseg het om af te klim…

img_7732

Hoe lyk dit nou, hier oor die Kersnaweek?

Ek skrik nog telkens as ek in die spieël kyk en nie ‘n blonde vrou sien nie – dit was immers hoe ek my lewe lank gelyk het. Maar ek raak gewoond aan die diep as/geweermetaal kleur en ek dink dit lyk sagter en eleganter as die goud-en-wit; dit vlei beslis my gelaatskleur. Heelwat van die donker pigment het reeds uitgewas en my hare is nou in ‘n vaal fase!

Dit is ‘n groot verandering en die einde is nog nie in sig nie.

Ek sal julle op datum hou!

Kyk intussen hier na die yslike trend wat Ash Balayage in die nuwe jaar gaan wees. Ek is gewis nie op die verkeerde spoor nie.

Sessie 4

Hierdie grysword-storie is “high maintenance”, glo my. Shelene sê ek behoort elke drie weke ‘n draai te maak by haar om die transformasieproses behoorlik te bestuur.

Ná die vakansie het heelwat van die donker pigment uitgewas en die onderste helfte van my haarlengtes se kleur was erg koper, terwyl daar sowat twee duim silwer by my slape en by my kroon is. Dit lyk bietjie bont, maar as ek my paadjie bietjie slordig zig-zag maak, vertoon dit nie te onaardig nie.

Session4
Sessie 4 : JANUARIE 2017

 

Vir hierdie sessie beoog Shelene om die natuurlike grys te behou, want dit is ‘n mooi kleur en sy wil dit nie bedek met ‘n tint nie. “As ek dit wel kleur, moet die kleur minimaal wees.” Sy het die nuwe L’Oreal Professional INOA Blond Resist  (‘n olie-gebaseerde kleur met lae amoniak-inhoud) gebruik. Die kleur kan aanvanklik te sterk violet vertoon, waarsku sy, maar dit sal binne een of twee wasse uitspoel. Sy het ook L’Oreal Smartbond by die kleur gevoeg om die hare se kondisie en glans ‘n hupstoot te gee.

Die tint moes blitsig aangebring word sodat dit nie te lank op my hare is en die silwer laat verkleur nie, dus was daar vir ‘n goeie agt minute vier vinnige hande met verfkwaste op my hare.

Die eindresultate: My hare het ‘n dieper as-kleur, met ‘n violetskynsel (maar darem nog nie mauve nie!) en dit blink pragtig van die Smartbond opknapper. Kom ons kyk hoe lyk dinge einde Januarie, wanneer ek aanmeld vir my volgende sessie.

Sessie 5

Sessie 5 : EINDE JANUARIE/BEGIN FEBRUARIE 2017

Dit was nou sommer ‘n goor maand. Ek het bosluiskoors opgetel by die see (ek het my hond beskerm teen die bospaadjies se vieslike bloedsuiers, maar helaas, nie myself nie) en ek was ylend siek en koorsig vir weke. Toe ek uiteindelik my kop kon oplig, was daar behoorlik werk vir Shelene. Alles aan my was moeg, pap en vaal, insluitende my hare. Kortom, ek voel en lyk soos ‘n bedremmelde veldmuis.

Shelene was baie tevrede dat minder van die tint uitgewas het as voorheen, wat beteken my hare se natuurlike kleur hou die pigment langer vas, sonder dat dit die hare self “kleur”. Vir hierdie sessie was haar doelwit om ‘n paar ligstrepe in te sit sodat die “lyn” tussen die grys hare en my “ou” haarkleur gebreek en ingeskakeer kan word.

“Die doel is om jou natuurlike hare sover moontlik op die voorgrond te kry, as ‘n resultaat van die hoeveelheid grys wat jy reeds het. Daar is geen punt daarin om jou hare te oorweldig met ligstrepe (highlights) nie. Ek gebruik net 15 foelies om die lyn te breek. Die silwer gaan dus oorheers, en daar is ‘n paar skadukolle wat opgebreek moet word. Jy is op die oomblik tussen die duiwel en diepblou see, en jy gaan dalk ongeduldig raak met die hergroei, maar die doel is om jou oor hierdie fase te kry met soveel natuurlike hare as moontlik.”

Shelene het weer Smartbond gebruik om die “integriteit” van die hare te beskerm teen skade weens die chemiese prosesse en bestanddele. Dié produk is L’Oreal Professional se antwoord op Olaplex, wat haarstiliste in staat stel om die hare deur verskeie chemiese prosesse op een slag te sit sonder enige wesenlike skade aan die hare se kondisie. Jy kan dus die hare bleik, tint, kleur, kartel of reguit maak met ‘n keratienbehandeling, en die hare kom ongeskonde anderkant uit – om die waarheid te sê, dit is verstommend sysag en blink.

Smarbond

Terloops, daar is vir die maand van Februarie 2017 ‘n heerlike Smartbond-kompetisie by alle L’Oreal Professional stiliste: Kry ‘n salonbehandeling met Smartbond en koop die tuisbehandeling vir weeklikse opknapping en instandhouding by die huis vir slegs R400 en staan ‘n kans om ‘n reis na Parys, Frankryk, los te slaan. Maak gerus ‘n draai by jou stilis – jy weet nooit of die geluk jou straks tref nie!

Nadat die ligstrepe afgespoel is, is my hare gespoel met L’Oreal Professional INOA Blond Resist 9.12 wat ‘n hoë askleurinhoud het, om ‘n silwer skynsel te skep en te keer dat die hare na ‘n paar keer se was weer ‘n koperskynsel ontwikkel.

So dit is waar ons nou staan, sedert middel-Oktober verlede jaar.

Hoe voel ek sover oor die “reis na grys”? In aller eerlikheid, een dag op en die volgende dag af. Soms vergeet ek dat ek nie meer ‘n blondine is nie – en dit het sy eie komplikasies as dit jou lewe lank ‘n kenmerkende aspek van jou voorkoms was. Dan verg dit nogal ‘n oomblik van nadenke, introspeksie en besinning. (Maar dit is ‘n diep storie vir ‘n ander dag…) Ander kere is ek absoluut bekoor deur die elegansie, kondisie en glans van my nuwe, natuurlike grys hare en kan ek nie wag om by die eindresultaat te kom nie – maar ek het nog ‘n hele ent (en baie tyd) om te gaan voordat my hare gaan lyk soos dié op die foto’s heel bo aan hierdie blog.

En ek raak soms ongeduldig en wonder of ek nie sommer ‘n emmer peroksied eensklaps op my kop moet omkeer om ‘n kortpad te vat na platinumsilwer nie..

Sessie 6

Sessie 6: Vroeg Maart 2017

Ek kla by Shelene oor ek nou regtig, soos sy voorspel het, tussen die duiwel en die diep blou see is. My kop lyk vir my behoorlik bont en ek is moeg vir die geel wat so opsigtelike deurslaan na ‘n paar weke.

Sy neem ‘n foto van my hare en wys dit vir my terwyl sy verduidelik: “Jy het drie, miskien vier duim hergroei hier bo. Jy kan sien dit is blink, dit het die regte kleur. Die hare ondertoe is steeds gekleurde hare – dit is waar die probleem lê, want daar is steeds neerslag pigment wat deurkom en dit is wat die hare oranjegeel laat vertoon. Hier bo  is die groot area  van hergroei en die kleur is baie mooi – ons wil soveel moontlik daarvan in die hare kry. Ons wil nou die area wat so koperagtig vertoon, neem en dit weer meer askleurig maak. Wat dit moeilik maak, is dat die natuurlike kleur wat nou deurkom, so mooi is, en dit het niks van die oranje ondertone nie – die probleem is dat ek nie eensklaps al jou hare daardie kleur kan maak nie, want ‘n mens kan nooit kunsmatig bereik wat natuurlikerwys gebeur nie.

“Vandag gaan ek geen ligstrepe insit nie, ek gaan nie naby enige van die “virgin”hare kom nie. Ek gaan weer die INOA 912 spoel insit, wat ‘n glinsterende soort grysblond is, en ek gaan nogmaals die geel hare afskakeer (tone) na ‘n askleur. Ons gaan dit vir die volgende twee jaar oor en oor moet doen en in ‘n stadium sal ons ‘n paar strepe moet insit. Ek weet jy wil nie jou hare kort sny nie, maar op een of ander tydstip sal ons dit ‘n paar duim moet sny.”

Ek verseker haar dat ek kans sien om vandag ‘n paar duim af te sny want die punte lyk vir my droog en strooierig, maar ek sluk swaar toe ek ‘n goeie drie duim van my lokke op my skoot sien val. Met my hare wat  vinnig uitgroei en met ‘n paar duim wat van onder af weggesny word, gaan die gaping tussen die ou en die nuwe kleur mettertyd verdwyn, verduidelik Shelene.

Sessie 7

Sessie 7: Einde April 2017

Ses weke na my vorige sessie is daar ‘n baie opsigtelike “waterskeidingslyn” tussen die nuwe grys en silwer hare en my “ou” hare. In vergelyking met die glans van die natuurlike haarkleur, lyk die blonde ligstrepe uitgewas en dor en dof.

Shelene het ‘n plan: “Daar is soveel haargroei dat dit begin lyk na twee verskillende kleure en dit begin ‘n bietjie minder classy lyk”, verklaar sy ewe diplomaties. Vertel jy my – ek lyk vir myself soos iemand wat ‘n tuiskleur-ramp oorgekom het.

“Wat ons gaan doen, is om die kleur rondom die haarlyn op te bou en net die allerfynste, dunste ligstrepe insit om die soliede kleurskeidslyn te breek, maar nie genoeg om die hare terug te neem na waar dit was nie. Dit gaan slegs ‘n paar foelieblaaie met babaligstrepe verg, by die middelpaadjie. Dan raak ons ook weer ontslae van die geel met die INOA 912 violet-kleurspoel en dit gaan vir ons weer nog vier tot vyf maande koop. Binne twaalf tot agttien maande sal jy honderd persent grys wees en dan kan ons die kleur net beklemtoon (enhance) en uitlig.”

Shelene het weer taamlik goed met die skêr ingelê, maar my hare is steeds onder my skouers en buitendien groei dit baie vinnig.

Hoe ek nou, ‘n raps meer as ses maande later voel oor my pad na silwer en grys? Ek wens eerlik dit wil gouer gebeur – aanvanklik het ek gemeen dit gaan net ses maande neem, en ek hou van kitsresultate. Maar ek is baie bly dat ek vir Shelene het om my hand ferm vas te hou en my deur my ongeduld en “vaal fases” te begelei. Hier is ‘n saamgestelde foto van hoe dinge oor die afgelope maande gevorder het. Ek dink ek het die heel meeste gehou van die kleur wat my hare ná Sessie 3 was, maar om dit weer so te laat lyk, sal ons heelwat kleur en donker pigment moet gebruik, en die doel is juis om my natuurlike grys haarkleur nou te laat oorneem.

Sessies 1-3. Die boonste ry is die VOOR en die onderste ry is die NA foto’s

 

Sessies 4-7. Die boonste ry is die VOOR en die onderste ry is NA foto’s.

Sessie 8

Sessie 8: Middel Julie 2017. Onder is hoe my hare gelyk het toe ek by die salon ingestap het, bo is die resultate ná die kleurspoeling.

Shelene se kommentaar: “Jou grys hare het nou so ver uitgegroei dat ‘n mens nie meer kan sien waar die ligstrepe begin het en stop nie. Die gaping tussen die hergroei en die strepe is nou baie klein. Ek gaan nie nodig hê om ligstrepe in sit nie, want ons wil juis daarvan wegkom.

“Ek wil weer ‘n kleursjampoe inspoel om die geel weg te neem, waar dit in die midlengte tot by die haarpunte is. Ek is baie tevrede dat ons nou die integriteit van jou hare se kondisie baie verbeter het. Ek gaan vandag ‘n staal/metaalgrys kleurspoel deur jou hare sit in ‘n variasie van ‘n omgekeerde balayage.” Dit beteken my haarpunte en midlengtes is donkerder as die wortels, wat nou silwer en donkergrys is.

Nadat my hare vir minder as tien minute met ‘n L’Oreal donker askleur, gemeng met L’Oreal Smartbond om die hare se kondisie te beskerm, gespoel is, het ek bietjie geskrik – dit het baie donker gelyk. Dit het egter glansend en mooi gelyk nadat dit drooggeblaas is, en ná twee keer se was tuis, is die donkerste askleur weggewas en die natuurlike silwer strepe het baie mooi en duideliker uitgestaan, terwyl die geel nou meer van ‘n donker karamel skakering is.

Teen einde Augustus, ses weke later, lyk my hare beslis beter as voor die 8ste sessie, met al minder kontras tussen die “ou” en die “nuwe” hare.

Ek moet erken, ek nie gedink dit gaan so lank neem voor ek ‘n volwaardige silwer vos is nie, maar noudat ek sover is, gaan ek vasbyt en deurbyt. My volgende afspraak beplan ek vir so middel September se kant – ek kan nie wag om te hoor wat Shelene se uitspraak gaan wees nie.

 

 

 

One Reply to “Van Goud na Silwer – My Pad na Silwergrys Hare”

  1. Bly jy was so dapper!!!! Van donkerbruin na grys was vir my nogal woes… Met sperwit langs die slape, sout en peper op die kop met swart strepe, snaakse bruin van die skouers ondertoe! Maar nou ja, ek gaan nie die hele lot strip of afsny nie…soms voel ek lus om die hele lot in donker bruinswart te doop, maar ek is amper ‘n jaar op pad… Vasbyt is die ding, en glans… Dis vreeslik van die bosluiskoors – hoop jy is weer op dreef. Liefdegroete, Elza

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *