WAT MAAK ‘N HAARDROËR R6 500 WERD? EK BEKYK DIE DYSON SUPERSONIC

Ek kyk al meer as ‘n jaar met lang, begerige oë na die pragtige supersoniese Dyson haardroër met sy revolusionêre ontwerp.

My hare nadat dit by die salon drooggeblaas is.

Dit het reeds elke gesogte internasionale prys vir styl en ontwerp en baanbreek- gadgets gewen, en ‘n mens hoef net na dié sierlike, vaartbelynde droër te kyk om te verstaan hoekom. Dit is super vinnig, super stil, super lig en super mooi. En super duur…

Toe dit verlede maand in Suid-Afrika land, het ek dadelik die uitnodiging aanvaar om my hare by die Gary Rom-salon in Mall of Africa met die Dyson Supersonic te laat droogblaas. Dit het ook ‘n onderhoud ingesluit met die jong ingenieur Brett Moulton, ontwerpbestuurder by Dyson se Nuwe Produk Innovasie, wat vir jare betrokke was by die ontwerp daarvan.

Hier is ‘n paar feite:

  • Dit het R900 miljoen gekos om die droër te ontwikkel en ontwerp.
  • Altesame 1 600 kilometer hare is drooggeblaas in die ontwikkelingsproses. Mensehare, ja.
  • Dit het 20 jaar geneem om die digitale motor te ontwerp.
  • Die motor roteer teen 110 000 revolusies per minuut.
  • Daar is 600 prototipes gemaak voordat die balans, funksionering en vinnige droogproses perfek was.
  • Die supersoniese werking maak die droër kragtig, vinnig en stil.
  • Die intelligente hittekontrole sorg dat die temperatuur nooit oor 125 grade Celsius gaan nie. Enigiets hoër as dit beskadig jou hare. Teen 150 grade Celsius word onherstelbare skade gedoen, met mikrogaatjies wat in die hare se keratien geprik word en die ligglans van jou hare breek en versprei (scatter). 
  • Die droër is veerlig en ongelooflik gerieflik om te gebruik. Dit is veral ‘n bonus as jy, soos ek, begin sukkel met pynlike rumatiekgewrigte.
  • Dit het ‘n 2-jaar waarborg.
  • Die prys laat jou oë water: R6 500. Maar as jy eers al die dinge hier bo weet, en self dié ingenieurswonderwerk beproef het, sal jy verstaan hoekom dit so duur is en hoekom vroue nogtans hul spaarvarkies daarvoor sal oopbreek.

 

Ek het ‘n video gemaak van my opwindende kennismaking met dié droër.

Ongelukkig het party van ons woonkompleks se kinders terselfdertyd hul swembad getref, verskoon dus maar die lawaai op die agtergrond.

My gawe buurvrou Sonia was die videograaf en ons het die video op haar patio opgeneem.

Dit is my eerste vlog (video blog) en ek is hiperkrities dat dit baie beter kon gewees het – ek sal beslis moet oefen om dit behoorlik te doen, maar ek wou julle so gou moontlik vertel hiervan sodat julle skimpe vir Kersfees kan begin gooi!

 

 

4 Replies to “WAT MAAK ‘N HAARDROËR R6 500 WERD? EK BEKYK DIE DYSON SUPERSONIC”

  1. Ai Elsa ek het sulke wye draaie om die Dyson geloop en na jou video en daardie foto met die lekker wip in jou hare gesien het, gaan ek nou my spaargeldjies blaas 😄

  2. En tog het hulle die coldshot-knoppie op ‘n ongangbare plek gesit. Lekker vertraag..

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *