Al die slim en kragtige nuwe teenverouderingsprodukte waaroor ek verlede maand geskryf het, beteken letterlik niks as dit nie saam met ’n sonskerm gebruik word nie. Punt.
Dit is jou beste wapen teen plooie, vlekke, verlies aan fermheid en leweloosheid.
Ons sien almal uit na die Desembervakansie – salige see, son en sand. Boonop, dit is wetenskaplik bewys – sonskyn is goed vir die siel. En die hemel weet, na hierdie taai jaar het ons almal ‘n sonnestraal of tien nodig om ‘n mens se gemoed ligter te stem.
Maar – benut en geniet die son met sorg en sonskerm. Asseblief. Daar is niks wat ‘n skoonheidskrywer soos ek moedeloser maak nie as om te sien hoe vroue hulself argeloos op die strand of by ‘n swembad uitstrek in die bakkende son en sonder hoed of sonroom voortgaan om hulself tot kaiings te verbraai. Dan wonder jy waarom skryf jy al dekades lank bangmaakstories oor hoe die son jou kan oud en selfs dood maak? Dink hulle straks ons jok daaroor?
Dis nie my verbeelding nie: Suid-Afrikaners is nog steeds skokkend onverskillig of onkundig oor beskerming teen die son, sê die Durbanse dermatoloog dr. Marc Roscher. Hy verwys na ’n onlangse studie deur dr. Ncoza Dlova, hoof van die departement dermatologie aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, wat toon dat melanoom en velkanker toeneem onder wit Suid-Afrikaners en in die algemeen onder die hele bevolking. Minder as 20% van wit Suid-Afrikaners het al hul vel laat nagaan vir tekens van velkanker, en swart en bruin Suid-Afrikaners meen dit is iets wat hulle nie juis raak nie.
Nie net is velkanker, en in die besonder melanoom, doodsake nie – sonblootstelling is verantwoordelik vir 80 persent van ons lyne en plooie.
Die tekens van fotoveroudering weens sonblootstelling is:
- donker vlekke en hiperpigmentasie
- droogheid
- growwe veltekstuur
- plooie, lyne en verlies aan fermheid
Jy behoort jaarliks jou vel (gesig en lyf, ook onder jou voetsole en op jou kopvel) te laat nagaan vir enige verdagte sonvlekke, moesies en sproete.
Dit kan duur wees om jaarliks ‘n dermatoloog te besoek vir ‘n velskandering om velkanker of melanoma vroegtydig op te spoor. Daar is nou ‘n inisiatief wat vanjaar vir die tweede keer van stapel gestuur is: Tientalle dermatoloë landwyd bied jaarliks op 1 September hul dienste gratis aan vir velkanker-ondersoeke in samewerking met www.skincomfortfoundation.co.za . Hou hierdie webtuiste aanstaande jaar dop hiervoor – dit kan letterlik lewens red. Merk dit in jou dagboek as ‘n afspraak wat jy moet nakom.
Probeer hierdie nuwe sonsorgprodukte, almal met ’n SBF van 20 of hoër. Laer as dit werk eenvoudig nie meer nie.
Gesig en décoletté: Clarins Sun Wrinkle Control Cream for Face SPF50; Vichy Capital Soleil SPF50 Tinted Dry Touch Face Fluid; Eucerin Oil Control Dry Touch SPF50 for Oily Skin, wat spesiaal geformuleer is vir vroue met ’n olierige vel; Optiphi Sun Protect the Canvas SPF30 Sun Protection Cream SPF30; BABOR Anti-aging Sun Care SPF30 Sun Cream (R597); Placecol Illuminé Sun Protection SPF25 (R350); Garnier Ambre Solaire Sensitive Advanced SPF50+; Bioderma Cicabio SPF50+ Soothing Repairing Care , wat die vel herstel en streel ná oormatige sonblootstelling; Nuxe Sun Delicious Lotion High Protection Face and Body of Heliocare 360º Airgel SPF50 (R462) met ’n lieflike mousse-tekstuur wat die vel ook teen infrarooi bestraling beskerm (dis my nuwe gunsteling, terloops).
Lyf: BioNike Defence Sun 50+ Very High Protection Sun Lotion (R149,95); of Badger Zinc Oxide Sunscreen Cream Broad Spectrum SPF30 (R246,75).
HARE: Jou hare kan ook sonskade kry wat dit droog, grof en leweloos maak. Philip Kingsley Swimcap beskerm die hare teen UV-strale, chloor en soutwater.