Ek is fanaties oor velsorg. Nie net omdat ‘n vlekkelose vel jou toelaat om met min grimering weg te kom nie (en hoe ouer ek word, hoe traer raak ek vir ingewikkelde en tydrowende grimering), maar dit skep ook die volmaakte skilderdoek vir die dag as jy jou grimeerkwasse nadertrek.
Maak geen fout nie: Ek is MAL oor grimering! En ek het ‘n formidable versameling daarvan. Waar velsorg vir my die ernstige sy van skoonheid is, is grimering die plesier-en-pret keersy daarvan. Met ‘n behendige spatsel kleur hier en ‘n strategiese streep daar, kan jy jou voorkoms in ‘n japtrap verander om te pas by enige geleentheid en luim. Ek mag miskien geen skildertalent hê nie, maar gee my ‘n grimeerkwas in die hand en ek ontpop in ‘n Picasso!
Ek was dus in die wolke toe GOSH Cosmetics vir my ‘n sak vol van hul nuwe grimering wat nou by Edgars beskikbaar is, gestuur het.
Ek hou van die GOSH handelsmerk uit Kopenhagen, Denemarke. Hulle is on trend soos die jonges sal sê en hul teksture en kleure is byderwets maar nie uitspattig nie. Boonop is dit nie buitensporig duur nie en danksy hul innoverende aanslag is daar gereeld iets nuuts om te probeer.
Die produkte bevat ook nie parfuum of parabens nie, wat ‘n plus is vir diegene wat allergies is daarvoor of puntenerig oor bestanddele is.
In die pakkie was:
Primer+ Base+ Illuminating Skin Perfector (R255)
As jy nog nie ‘n aanhanger van ‘n sg primer is nie, hier is waarom jy dit moet probeer: Soos ‘n grondverflaag berei dit jou gelaat voor vir onderlaag en wat volg. Een van my gunsteling skoonheidskrywers, Andrea Q Robinson sê in Toss The Gloss – Beauty Tips, Tricks & Truths for Women 50+ dat dit werk soos Spanx (daardie spanbroekies wat los rolletjies streng op hul plek hou) vir jou gesig. ‘n Goeie primer laat jou BB-room, getinte bevogtiger of onderlaag foutloos aanglip, dit vul lyne en plooie op, maak velkleur egalig en verleen ‘n stralende voorkoms aan dowwe, tam vel. Jy kan dit selfs alleen dra, bo-oor jou bevogtiger en sonskerm. Daar is verskillende primers vir jou vel se spesifieke behoefte, maar omdat ek hou van ‘n gloed (glow) op my vel, is ek baie partydig vir ‘n sogenaamde illuminating primer.
Die Primer Plus+ Base+ Illuminating Skin Perfector skep ‘n gelykmatige velkleur, verdoesel merkies en fyn lyne en laat porieë fyner vertoon terwyl dit die vel ophelder. Dit het ook velsorgvoordele, want dit bevat bestanddele wat die vel bevogtig, verhelder en selhernuwing stimuleer. Dit laat ook grimering langer hou.
Giant Pro Liner (R185)
Niks beklemtoon jou oë so treffend as oogomlyner nie. Gewoonlik omlyn ek my oë met ‘n sagte kohlpotlood of met ‘n ferm, skuins kwassie en donkerbruin of swart poeier- of jelomlyner. Hierdie ink-omlyner is intens swart en dramaties en waar die streep getrek is, daar bly dit. Die punt is fyn vir ‘n skoon, skerp en presiese lyn en ofskoon ek maar lomp is met vloeibare oogomlyner, is hierdie een verbasend maklik om aan te wend. Jy kan ook die lyn so dun of so dik maak as wat jy dit wil hê.
Catchy Eyes Mascara (R155)
Maskara is die een grimeeritem waarsonder ek nie kan leef nie. Wimpers is vir my die Wonderbra van jou gesig en al gallop ek die huis op ‘n vaart uit, met niks anders op my gesig nie, kan jy seker wees my maskara is in plek. Hierdie maskara gee ‘n kurwe en kat-oog effek aan die wimpers, danksy die rubberborsel wat die wimpers mooi skoon skei en lig. Dit is beslis ‘n nuwe gunsteling in my maskaralaai.
Velvet Touch Matt Lipstick – Classic Red 005 & Cranberry 014 (R145)
Hoe rooier hoe mooier, veral as jy die dag ‘n “stelling” wil maak. ‘n Mooi rooi mond laat na my mening ook sommer jou oë blinker lyk. Dieselfde geld vir ‘n diep bessiekleur, wat goed werk vir diegene wat nie heeltemal vir knalrooi kans sien nie. Die lipstif is mat, wat beteken dit is pigment-ryk, maar dit voel romerig en nie droog op die lippe nie, anders as heelparty mat lipstiffies op die mark. Dit hou ook opmerklik lank op die lippe.
Velvet Touch Lipstick – Nude 162 (R140)
Naakte lippe wat nie kaal is nie, is die groot modekleur oorsee. Glansvroue val oormekaar om dit op die rooi tapyt te dra. Vir ‘n goedversorgde dagvoorkoms wat nogal heel sensueel lyk, kan jy nie verkeerd gaan met hierdie kleur nie. Dit is ryk aan pigment en bevat Vitamine E om jou lippe teen vrye radikale te beskerm.
Forever Eye Shadow Stick Kleure 01 – 08 (R160)
Nou kyk, ek en oogpotlode het ‘n warm ding aan die gang – al lankal! Veral wanneer ek nie noukeurig met grimeerkwassies en poeieroogskadu wil vroetel nie, is ‘n woeps-waps met ‘n paar romerige potlode my plan vir ‘n vinnige afgeronde voorkoms. Ek was heerlik verras met die tekstuur van hierdie potlode en ook die lekker bruikbare, vleiende kleure. Dit wend romerig aan en skakeer maklik met die vingers in. Daar is ‘n subtiele metaalglim in die agt roomstiffies, wat veral vir aandgrimering ‘n misterieuse voorkoms verleen, sonder dat jy soos ‘n disko-diva sal lyk.
Ek hou van die neutrale kleure in die 01-04 reeks, maar die juweelkleure in 05-08 kan ‘n aandvoorkoms baie dramaties opkikker.
Forever Eye Shadow Matt Stick – shades 09-12 (R160)
Die vier mat skakerings is my gunstelinge vir ‘n baie natuurlike dagvoorkoms. Die fluweelafwerking is subtiel en vertoon glad en sag. Boonop hou dit tot agt ure sonder om te “kreukel” of vlokkerig te raak en dit is waterbestand, as jy dalk in ‘n stortreën gevang word.
My gunstelinge is 09 Nougat en 10 Twisted Brown, waarby ek net ‘n kolletjie 02 Beige in die middel van my ooglid, reg teen die wimpers aantik vir ‘n spatsel lig en glinster. Die 12 Dark Grey stiffie maak kinderspeletjies van ‘n dramatiese smokey eye vir die aand.
In my boek is hierdie potlode wenners wat vaste verblyf kry in my potloodsakkie. Dit tel veral punte dat dit die helfte kos van die produk wat ek gewoonlik gebruik.
‘n Produk wat nie in die toetspakkie was nie, en waarop ek my oog baie sekuur het, is Giant Blush (R145), ‘n roomblosser-stiffie. Dit is ‘n room-tot-poeier blosser wat sagkens aanglip vir ‘n natuurlike blos. ‘n Mens kan dit opbou tot intense kleur, of net ‘n sweempie van ‘n blos op die wange.
5 Mooipraatjies-wenke vir Grimering wat Werk vir ‘n Ouer Vel
Minder is meer, veral as jou vel die spore van die tyd begin wys. Maar dit beteken nie jy kan nie nog baie pret hê met grimering nie, of dat jy met ‘n vaal gesiggie moet rondloop nie.
Ek vind net ek moet my keuse van grimeerprodukte aanpas noudat my vel ouer is. Hier is ‘n paar dinge wat ek nou anders doen:
- Tekstuur: Kies roomteksture pleks van poeier. Dit geld vir onderlaag, blosser en oogskadu. Veral poeierblosser kan baie verouderend wees. Jou vel is nie meer so glad nie, met straks ‘n paar lyne en growwerige kolle en vergrote porieë. Die poeier gaan lê in die lyne en beklemtoon dit, terwyl growwe plekkies die kleur kollerig laat lyk. Vervang jou poeierblosser met blosstiffies, rome en jels of kleurtint. Dit is makliker as poeier om aan te wend, en jy kan begin met net ‘n ligte veegseltjie en dit opbou tot die kleurintensiteit wat jy verlang, sonder dat dit dik en aangeplak sal lyk.
- Potlode en stiffies: Ek het nou al ‘n paar jaar ‘n liefdesverhouding met grimeerpotlode en stiffies. Nie net oor die romerige tekstuur nie, maar omdat dit prakties en ekonomies is, want dit wend vinnig en maklik aan en jy gebruik dit op voordat dit droog en bros raak of kraak, soos poeieroogskadu’s dikwels doen. Boonop het jy net ‘n handvol nodig om ‘n perfekte gesig op te tower en dit is ‘n plesier om te pak as jy moet reis.
- Kleur: Tensy jy soos ‘n pou of bloukopkoggelmander wil lyk, bly weg van helder kleure soos pienk, groen, pruim en blou op jou ooglede, veral bedags. Neutrale skakerings soos room, bruin en grys is vleiend vir ouer ooglede, terwyl helder en glinsterkleure (glitter) die aandag vestig op ooglede wat crêpe-agtig geraak het.’n Effense glim (shimmer) teen die wimperlyn kan goed werk om jou oë skitterblink en jonk te laat lyk. Bly weg van helderwit op die wenkbroubeen, dit lyk nie natuurlik nie. Gebruik eerder ‘n subtiele verligter (highlighter) net onder die wenkbrou.
- Definisie: Beklemtoon jou oë met oogomlyner en maskara. Oogomlyner doen vir jou oë wat ‘n goeie bra vir jou bates doen. Tensy jou ooglede nog glad is en jy ‘n besonder stewige hand het, bly liewer weg van vloeibare oogomlyner; ‘n sagte kohl-potlood en die nuwe ink-omlyners wend makliker aan. Weer eens, bly weg van blou en groen potlode, of enigiets met ‘n rooi of pruimkleur pigment. Wikkel jou maskara heen en weer in die boonste wimperlyn sodat dit amper ‘n natuurlike omlyner vorm en jou wimpers dig laat lyk by die wortels, waaier dit dan uit na die buitenste ooghoek toe, dan weer na binne, amper soos ‘n ruitveër, en weer finaal na die buitenste ooghoek. Jy sal nie glo hoe dig en lank dit lyk nie! Kompleet soos ‘n slaappop s’n. (Dit is ‘n wenk wat ek lank gelede by ‘n knap grimeerkunstenaar afgekyk het, en glo my, dit werk, veral as jy vooraf die moeite doen om jou wimpers te krul.)
- Lippetaal: Bleek lippe laat jou oud en vaal lyk. Belê in ‘n neutrale kleur (die perfekte natuurlike lipkleur is dieselfde as die binnekant van jou lip) in skakerings soos naakpienk, toffie/karamel, roospienk en pienkbruin vir ‘n versorgde voorkoms bedags. As jou lippe nog vol is en jy nie fyn staafkode-lyntjies rondom jou mond het nie, pluk uit daardie karmosynrooi lipstif vir ‘n gesofistikeerde aandvoorkoms. ’n Goeie wenk is om jou lippe (selfs vir rooi lipstif) met ‘n natuurlike kleur lippotlood te omlyn. Kies ‘n lipstif met ‘n romerige, vogryke, blink tekstuur – mat lipstif kan droog wees.
Is jy nou geïnspireer om te eksperimenteer met nuwe grimering en tegnieke?
Ek het ‘n heerlike geskenkpak van top GOSH grimeerprodukte ter waarde van R675 om weg te gee.
Die pak bevat:
Primer Plus+ Illuminating Skin Perfector om gesonde gloed aan die vel te verleen
Kohl Eyeliner Black vir ‘n sagte potloodomlyning
Boombastic Mascara vir ekstra volume en lengte danksy ‘n reuse borsel
002 Lip Oil Sea Buckthorn verskaf ‘n glansvoorkoms en bevogtig selfs beter as ‘n lipbalsem met helende olies soos argan, makadamia, moringa en see perdebesiesaad olie. Dit herstel, bevogtig en hervitaliseer die lippe. Yum.
WAT JY MOET DOEN
Beantwoord die volgende vraag:
Wat is GOSH se land van oorsprong?
Vul jou antwoord in by die Kommentaarblokkie hier onder.
Sluitingsdatum: 30 Junie 2017
Gosh Cosmetics is beskikbaar by Edgars.
Denemarke
Whooo hoooo Gosh se land van oorsprong is Kopenhagen!
Denemarke
Kopenhagen – Denemarke
🖤🖤🖤🖤🖤🖤🖤🖤🖤
Kopenhagen, Denemarke
Denemarke
Denmark
Denmark
Denmark
Kopenhagen, Denemarke
Denemarke
Kopenhagen, Denemarke , wow this is amazing and so gorgeous
Kopenhagen, Denemarke
Denmark
Denmark
Kopenhagen, Denemarke ♥ Sal bitter graag hulle produkte wil probeer.
Kopenhage, Denemarke
COPENHAGEN DENMARK
Kopenhage Denemarke
Kopenhagen, Denemarke
Kopenhagen, Denemarke
Kopenhagen, Denemarke
kopenhagen denemark
Kopenhagen, Denemarke
Ek het altyd gewonder oor n oog omlyner as die kat plooie begin baljaar. puik advies
Kopenhagen, Denemarke
Kopenhagen, Denemarke
Kopenhagen Denemarke
Kopenhagen, Denemarke
Kopenhagen, Denemarke
Kopenhagen, Denemarke
Ek gaan dit defnitief probeer! Dankie vir die volledige inligting oor die produkte jy maak my sommer opgewonde on dit uit te toets!! Antw Denemarke
Kopenhage Denemarke
Kopenhagen Denemarke
Denemarke
Kopenhagen Denemarke
Denemark
Kopenhagen, Denemarke
Kopenhagen, Denemarke