WIE EK IS
Hallo en dankie dat jy na my webblad kom kyk.
Ek is Elsa Krüger en ek is ‘n joernalis met meer as 40 jaar ervaring in koerante, tydskrifte en selfs as ‘n kortstondige regering-spindokter. Laasgenoemde het my permanent genees van politici – lipstiffie en maskara is eerliker! (En doen meer vir jou…)
Skoonheid – en grasievolle veroudering veral – is ‘n passie by my. Ek beskryf myself soms as ‘n Pro-Ouderdom Aktivis en Anargis! Ek spesialiseer die afgelope drie dekades in skoonheidsjoernalistiek, onder meer as skoonheidsredakteur en/of –artikelskrywer vir De Kat, SARIE, SHAPE Magazine, IDEES Tydskrif / IDEAS Magazine, ROOI ROSE, LONGEVITY Magazine en FORBES Woman Africa Magazine.
Die grootste lekkerte die afgelope raps meer as ‘n jaar, is my betrokkenheid by JOERNAAL, die fenomenale tydskrif vir vroue oor 50 en susterstydskrif van IDEES. Die tydskrif se slagspreuk is Bly Gelukkig, Bly Gesond, Bly By. Geen advertensies van krukke n looprame nie, net pitkos (baie pittig ook), breinspeletjies en hoe om nie uit die voortsnellende bus van tegnologie en nuwighede, te val nie. Dit kom 3x per jaar uit, met genoeg om aan te herkou en jou aan die lees te hou vir minstens drie maande!
Ek begin MOOIPRAATJIES as ‘n platform omdat ek besonder ingestel is op teenveroudering en intens glo dat ouderdom net ‘n nommer is. Dit is egter ‘n feit dat vroue van 45+ toenemend ignoreer word deur tydskrifte, televisie, adverteerders en bemarkers oor die algemeen – hulle is die Onsigbare, Vergete Demografie in ‘n wêreld met ‘n jeug-obsessie.
Ironies genoeg, word biljoene in die skoonheidsbedryf bestee aan navorsing en ontwikkeling van produkte wat die ouderdom juis moet uitoorlê! Boonop word dié wonderwerke teen veroudering aan ons opgehemel deur bemarkers en mediamense wat gewoonlik nog net puisies gehad het maar geen plooie nie!
Uit die aard van my werk kreun my skoonheidsrakke onder produkte (en ja, ek probeer almal!). My notaboeke bult van inligting wat ek graag met julle wil deel in ons natuurlike strewe om so mooi en jonk moontlik te bly, so lank as moontlik. Glo my, as ek iets ontdek wat werk, basuin ek dit dadelik uit en julle weet eerste daarvan! Hou my KSB (Klein Swart Boekie) dop vir die beste van die bestes.
Laastens – MOOIPRAATJIES is Afrikaans en Onafhanklik. Dit is die eerste selfstandige Afrikaanse skoonheidsblog/webwerf en dit is lankal hoog tyd daarvoor, want ons Afrikaanse vroue is besonder gesteld op ons voorkoms en skoonheidsorg.
My Australiese eggenoot glo vas Suid-Afrikaanse vroue is die mooistes op die planeet. Hoor hoor! Ons gaan mos nie stry daaroor nie!