Winterwenners Vir My Lyf

Ek hou nie van die winter nie. Nie eens kaggels, biltong, my Ma se boontjiesop en rooi wyn maak my hart week vir die winter nie. Ek verkluim, ek raak treurig en traag en eintlik wil ek soos ‘n beer net hiberneer.

My vel hou ook nie van die winter nie. My lyf nog minder. Die versoeking is boonop baie groot om lui te wees en my lyfsorgroetine af te skeep, want alles word tog buitendien onder lae klere versteek.

Uit ervaring weet ek dis ‘n groot fout. Soms beland ‘n mens in die Noordelike Halfrond se somer terwyl dit diep winter tuis is, en dan kom al jou laksheid aan die lig. Nou sorg ek dat ek groot plesier en lekker bederfprodukte vir die winter byderhand het. Wanneer ek dan uiteindelik onder die beerpelse uitkruip in die lente, lyk dinge nie heeltemal so haglik nie.

Ek het hierdie winter weer die deugde van ‘n lyfborsel herontdek. Glo my, daar is min rituele soos sg “dry brushing” om jou bloedsomloop aan die gang te kry en jou hele lyf te laat tintel. Dit maak jou vel rosig, sag en glad en raak ontslae van daardie nare harde knoppies (keratosis pilaris) wat in die winter op ‘n mens se bo-arms, dye en sitvlak vorm weens wrywing met klere. Kry vir jou ‘n goeie lyfborsel (Body Shop en Dischem het lekker stewiges) en borsel jou lyf flink voor jy in die stort of bad spring, maar nie so hard dat die velle waai nie.

Die geheim om na die winter uit jou kokon te seil met ‘n sagte, gladde lyf, hande en voete, is gereelde velskilfering, hetsy met ‘n droë lyfborsel of lyfskroproom en konstante bevogtiging en beskerming dat die vog nie verdamp nie.

Hier is van my winterwenners vir my lyf, hande en voete:

LYF

NIVEA Care Shower Care & Magnolia Shower Cream (500ml R49,99) verfris, reinig en pamperlang my vel sonder om dit uit te droog. Dit is ‘n weelderige, sagte skuimreiniger sonder om “seperig” te wees en die vel uit te droog. Dit bevat galam-olie (shea) en makadamia-olie en dit het ‘n lieflike magnoliageur. Dit is nuut in die NIVEA-reeks stortrome, saam met die Shower Care & Coconut Shower Cream, wat jojoba-olie en klapperwater bevat. Die formules is pH-gebalanseer om jou vel lank gehidreer te hou.

Sodra ek uit die stort is, bedruip en deurdrenk ek my lyf behoorlik met olie, sommer nog terwyl my vel klam en warm is. Ek is nog altyd verslaaf aan olies, en gebruik dit daagliks, letterlik van kop tot toon. Wanneer ek na bietjie weelde voel, gebruik ek Beauté Pacifique se Anti-oxidating Corpus Paradoxe Body Oil wat teenverouderende Chileense druiwesaadolie bevat en diep penetreer om die vel soepel en jeugdig te hou. Dis taamlik duur en ek vind dit is veral doeltreffend op my voorarms, waar die vel dun en droog is (en al hoe meer papierdun raak soos ‘n mens ouer word).

Hierdie is nie ‘n advertensie vir NIVEA nie hoor, maar hulle produkte is net eenvoudig so doeltreffend (en bekostigbaar) dat dit konstant my badkamer vol staan: Ek gebruik baie kwistig aan hul NIVEA Firming Body Oil oor my hele lyf (200ml R109,99). Dit is tjokvol heilsame olies soos avokado-olie, makadamianeut-olie en katoensaadolie plus ko-ensiem Q10, wat die vel hernu en fermer maak.

Sodra ek goed ge-olie is, volg ek dit op met ‘n ryk lyfroom, veral op my bene en arms, wat maklik droog en skubberig raak in die winter. My absolute gunsteling hierdie winter is my vriendin Elaine Kooiman se splinternuwe reeks Skin Worx Body Care Rich Skin Balm (R140). Dit bevat vrugte-olies, sonneblomolie, olyfolie en sojaboon-ekstrak vir ‘n ekstra ryk room wat help vir baie droë vel wat vlokkerig (flaky) is. Dit werk ook wonders vir droë, gebarste hakke. Dit kos R140 en jy kan hier navraag doen en bestel.

Met die vooruitsig dat ‘n mens eendag onder al daardie lae wintersklere weer moet tevoorskyn kom, is winter ook nie die tyd om jou figuur af te skeep en die selluliet te laat vatrapplek op jou dye kry nie. Ek gebruik elke oggend SISLEY  CellulNov Intensive Anti-cellulite Body Care (R2 360). Niemand weet meer van selluliet as die Franse nie, en wanneer ek dié produk gebruik (en glo my, ek probeer hulle almal want ek háát dimpel-dye) kan ek regtig sien my vel lyk gladder en fermer en my rondinge stewiger.

Hoe lyk dit onder jou arms? Nee regtig? Is die vel daar droog en grof, met hoenderveltekstuur of selfs verkleur? Kan jy jou armholtes met vertroue vir die wêreld vertoon as die somer kom? Ons gebruik almal reukweerders om vanselfsprekende redes, maar een van die newe-effekte van baie antiperspirante en deodorante is dat dit delikate, fyn onderarm-vel uitdroog en selfs vlek en donkerder maak. Dis hoekom ek opgewonde is oor die spinternuwe (ja, alweer!) NIVEA Protect & Care 48H Antiperspirant in aanrol- en sproeivorm. (R19,99 vir aanrol en R29,99 vir sproei.) Dit ruik presies soos daardie betroubare blou blikkie ryk room waarmee ek grootgeword het en bevat dieselfde bestanddele as dié room om te sorg dat die vel droog dog bevogtig bly. Dit is alkoholvry om nie sensitiewe vel te irriteer nie.

Hier is ‘n Elsa Wenk: Ek smeer altyd lyfroom ruimskoots aan onder my oksels sodra ek uit die stort kom. Dit keer vir daardie skilferige droogheid wat so maklik daar voorkom.

VOETE

Stewels en sokkies hou jou voete warm en droog in die winter, maar al die ingehoktheid kan jou letterlik droë, koue voete gee. En behoede die dag as daardie wintervoete weer in sandale moet pryk… Ek is in die winter baie gesteld daarop om my voete gereeld af te skilfer, juis omdat dooie vel so maklik dan opbou en nie danksy natuurlike wrywing afskilfer deurdat ‘n mens byvoorbeeld kaalvoet loop nie. Twee maal per week dam ek my voetsole en hakke by met ‘n fyn voetvyl  (wees versigtig vir growwe skuurpapiervyle, wat die vel kan skeur) en ek vryf na my stort of bad my voete deeglik in eers met olie en dan ‘n ryk voetroom soos O.P.I. Feet Double Coverage. Wanneer my voete regtig droog en grof voel, behandel ek hulle met Skin Logic Foot Repair Moisture Intense Foot Mask wat groentee, galambotter, peperment en seewier bevat. Ek hou die deurweekte “booties” aan vir twintig minute en daarna is my voete sysag en baie gelukkig.

HANDE

Julle ken die storie: Jou hande verklap jou ouderdom lank voor jou gesig jou verraai. In die winter word ons hande werklik beproef want dit word nie met klere of skoene beskerm nie en is blootgestel aan weer en wind en verwarmers. My nuwe gunstelingbehandeling vir my hande is Filorga Hand-Absolute Ultimate Rejuvenating Hand&Nail Cream (R400) wat belowe om veroudering teen te werk, donker vlekke te voorkom of ligter te maak en naels te bevogtig. Dit voel kompleet asof ‘n mens ‘n syhandskoen aangetrek het as jy die room aangewend het.

NAELS

Merk julle ook op hoe ‘n mens se naels droër en harder of brosser raak met die jare? En dis al asof die naelvelletjies (cuticles) ook lastiger en harder word. Ek moet bely – ek kan ‘n droë naelvelletjie om die dood nie met rus laat nie. As gevolg daarvan sit ek gereeld met ‘n ingeskeurde, seer naelriem wat pynlik is en lank vat om te genees. Ek was dus baie opgewonde om onlangs twee produkte van Kroko te kry om te toets: FingerFix Colourless Liquid Plaster  vir gekraakte of geskeurde vel op vingers of voete en NailFix  vir beskadigde naels. Ek het reeds eersgenoemde op my ingeskeurde naelvelletjies gebruik en dit bring onmiddellike verligting.

My naels verg ook ekstra aandag in die winter, want ek dra nie voltyds naellak nie – ek is gewoon te lui om my naels gereeld te verf. Naakte naels moet egter goed lyk, anders lyk jou hande onversorg. My staatmakers hierdie winter is NailTek Renew Cuticle Oil  wat die naelvelletjies sag en vogtig hou sodat dit nie droog word en my in die versoeking stel om daaraan te peuter nie en LCN Nail Care 3-Phase Nail Oil  wat die nael self soepel en bevogtig hou en keer dat dit hard en bros raak of kraak.

Nog ‘n Elsa Wenk: Ek hou die olie vir my naels en vir my naelvelletjies sommer op die rak langs my rekenaar, sodat ek dit ‘n paar keer deur die dag kan aanwend.

En dit is min of meer al, wat my winterlyf-roetine betref!

Ek skryf binnekort wat ek alles doen om my gesig en hare heelhuids die winter te help oorleef. Dit is ‘n aansienlik langer relaas…

 

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *